Herbedraad Jou Hart - 10 Dae om Sonde Te BevegVoorbeeld
Die Verkeerde Manier Om Sonde Te Beveg
Wanneer jy met 'n sonde wil ophou, wat moet jy doen?
Probeer jy om jouself van iets te ontneem, bly jy weg van verleiding of probeer jy om jou aandag af te lei met onskadelike aktiwiteite?
Jy het seker al deur ervaring geleer dat nie een van hierdie tegnieke werk nie. Jy kan nie jouself ontneem nie, jou begeertes ignoreer of jou eie wil dwing om onderdanig te wees nie. Hoekom? Want jou denke en wil is nie die middelpunt van jou besluitnemingsproses nie. Jou hart is. Indien jy nie vir iets lief is nie, sal jy dit nie doen nie. Indien jy iets nie haat nie, sal jy dit nie uitlos nie.
Tog word hierdie strategie vandag nog in so baie selfhelpboeke en selfs in preke voorgehou. Daar is altyd nuwe "wysheid" hoe om met slegte gewoontes op te hou en met goeies te begin. Hulle hanteer meestal sonde soos 'n dieet. Honger die slegte uit. Voed die goeie. Sonde werk egter nie so nie.
In ons Skrifgedeelte vir vandag, tree Paulus op teen soortgelyke godsdienstige leerstellings van sy dag. Hy verduidelik aan sy gehoor dat dit "geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte [het] nie" (Kolossense 2:23) of "die aardse dinge [kan] doodmaak wat nog deel van julle lewe is" (3:5) nie. Voordat hy hulle vertel hoe om dit te doen, verduidelik hy hulle eers hoe om dit nie te doen nie.
Mense in Paulus se dag het geglo dat onthouding die regte wyse was om sonde uit te roei. "Soos: 'moenie vat nie', 'moenie dit eet nie' en 'moenie aanraak nie'" (2:21). Hulle het 'n mensgemaakte godsdiens gevorm deur hulleself van die basiese goed te ontneem deur — "danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam" (2:23). Hierdie manier om sonde te beveg, was om jou liggaam te straf as dit nie gehoorsaam is nie.
Dit is 'n uiterste weergawe van wat ons doen. Byvoorbeeld, as iemand met pornografie 'n stryd het, mag hulle hulself van die internet en tegnologie ontneem. Wanneer hulle daarin verval, dan voel hulle skuldig en skaam. Die probleem is dat onthouding nie die hart kan verander nie, net soos uithonger nie van die hongerpyne ontslae raak nie.
Miskien klink dit vir jou verkeerd. Miskien is dit hoe jy gedink het jy veronderstel is om sonde te beveg. Dit is geen wonder dat Paulus gesê het: "Hierdie leerstellings het wel 'n skyn van wysheid" (2:23). Tog sal dit nooit werk nie. Sulke sondige leerstellings "het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie" (2:23).
As dit dus is hoe om nie sonde te beveg nie, hoe moet ons dan sonde beveg?
Paulus gee ons die antwoord: "... strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is ..." (3:1-2).
Hoe beveg ons dus sonde? Ons rig ons gedagtes op Christus. Ons kan nie ons harte verander bloot deur vir ons begeertes "nee" te sê nie. Jy kan wel jou hart verander deur jou gedagtes op Christus te rig.
Wanneer jy jouself daaraan herinner dat jy "saam met Christus uit die dood opgewek is" (3:1), word jou hart gevul met baie toegeneentheid en liefde. Hierdie toegeneentheid sal jou hart herbedraad om te doen wat onthouding nooit kan nie. Deur te "strewe na die dinge daarbo waar Christus is" en sy evangelie, sal dit sonde in jou lewe doodmaak.
Aangaande hierdie leesplan
Baie Christene glo dat die enigste manier om sonde te beveg is om op ons tande te byt en bo versoeking uit te styg. Jy kan egter nie sonde met jou denke beveg nie, jy moet dit met jou hart beveg. In hierdie 10-dag leesplan, gebaseer op die boek "Rewire Your Heart", gaan ons na sommige van die belangrikste verse oor jou hart kyk wat jou sal help ontdek hoe om sonde te beveg deur die evangelie toe te laat om jou hart te herbedraad.
More