Wees Die Hande En VoeteVoorbeeld

Be the Hands And Feet

DAG 2 VAN 5

Die Rede Vir Jou Hoop

My natuurlike vordering om as die hande en voete van Jesus te dien, het 'n vroeë "wandelende" Christenskap — met 'n hond — ingesluit. Toe ek sewentien jaar oud was, sou ek in my rolstoel uitgaan om ons hond vir sy stappie te vat en dan het ek gesprekke aangeknoop met feitlik almal wat ek langs die pad ontmoet het. Ek weet nie of dit was dat ons hond, Seth ('n Jack Russell en King Charles Cavalier-kruis), so oulik was en of dit ek was nie, maar daar was altyd baie mense wat maar té gretig was om te praat of te gesels, terwyl hulle saam met ons geloop het. 

Ons sou oor die hond gesels, en as ons nog nooit vantevore ontmoet het nie, sou hulle uiteindelik vir my vra hoe ek my ledemate verloor het. Wanneer ek my storie met hulle gedeel het, was hulle gewoonlik baie geïnteresseer en geraak. Hierdie gesprekke het soms tot ‘n bespreking oor geloof gelei. Soms het hulle gewonder hoe ek so 'n positiewe houding kon hê, en dan sou ek vir hulle vertel dat ek glo dat God my met 'n doel geskape het en dat ek my geloof daarop baseer. 

Om met Seth te gaan wandel en my geloof met ander te deel, het vir my ‘n ware passie geword. Wanneer ek die huis met Seth verlaat het, kon ek nie wag om te sien wie ek om die draai sou ontmoet nie. Met verloop van tyd het ek aangebied om my storie en my oortuigings feitlik oral te deel waar ek gegaan het. Ek kan nie onthou dat ek ooit deur iemand verwerp is nie, alhoewel daar sekerlik diegene sou wees wat ‘n ompad geloop het wanneer hulle my sien aankom het. 

Ek het probeer om nie té voortvarend te wees en té veel druk uit te oefen nie. Ek sou net vra hoe dit gaan en na ‘n paar minute se gesels sou ek vra: “Is daar enigiets waarvoor ek vir jou kan bid?” Die meeste mense het die aanbod waardeer. Wie het dan nou nie 'n gebed nodig vir hulleself óf vir iemand anders vir wie hulle omgee nie? Dit is soos om 'n verrassingspakkie van 'n totale vreemdeling te ontvang, en dit is selfs beter as om ‘n lotery te wen, omdat die prys van gebed ewigdurend is! 

As Christene moet ons paraat en gereed wees om ons geloof met ander te deel. Die beste manier om ons geloof uit te leef, is om elke dag met krag, vrede, liefde en vreugde te leef — selfs te midde van beproewing. 

Wanneer laas was jy opgewonde om goeie nuus met iemand anders te deel? Watter gawes het God vir jou gegee om ander van Hom te vertel?

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Be the Hands And Feet

Nick Vujicic is wêreldwyd bekend as die man sonder arms en bene, wat 'n aansteeklik positiewe gesindheid het. Soos Nick met ons deel in "Be the Hands and Feet," is niks in sy lewe so lonend as om Jesus aan mense bekend te stel wat Hom nog nie ontmoet het nie. Wat behels dit? Hierdie vyf-dag leesplan gee ons 'n blik op die kern van Nick se boodskap en inspireer ons om ons geloof in Jesus met 'n wêreld te deel wat hoop desperaat nodig het.

More

Baie dankie aan WaterBrook Multnomah wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://waterbrookmultnomah.com/books/236025/be-the-hands-and-feet-by-nick-vujicic/