GesindheidVoorbeeld
Jesus Treur
Elke ding het sy vaste tyd ... 'n tyd om te treur ...(Prediker 3:1,4).
Daar is tye wanneer 'n positiewe gesindheid dalk nie die regte benadering is nie. Kultuur kan ons oortuig van die behoefte om voortdurend positief te bly om ons slegte gedagtes te onderdruk en op die goeie te fokus — moet ons woorde en gevoelens egter net positief wees wanneer die kanker terminaal word? Of die egskeiding afgehandel is? Of die kind nie oorleef nie? Of die geweld nie eindig nie?
Deur te treur, openbaar Jesus aan ons 'n gesindheid wat reg kan wees, al voel dit nie positief nie.
Treur is 'n innige uitdrukking van hartseer. Dit voel dalk nie lekker of gemaklik nie, maar dit is 'n gepaste reaksie op diep en oënskynlik onoplosbare pyn. Trouens, as om Jesus te volg die gesindheid insluit wat Hy sou openbaar in élke situasie waarmee ons te kampe het, dan sal dit onwys wees vir ons geestelike groei om rou te vermy.
Dit is algemeen om pynlike gevoelens te vermy deur ons aandag af te lei met vermaak, valse positiwiteit, dwelms, alkohol of selfs leë godsdiens. Soms is om te treur die beste ding wat jy kan doen: vóél daardie gevoelens, vertel vir God en ander eerlik daarvan, en laat Hom toe om jou pyn te genees.
Jesus treur. Jesus huil. Miskien is Johannes 11:35 een van die kortste verse in die Bybel omdat daar min woorde is om die regte reaksie te beskryf wanneer een van jou goeie vriende sterf. Jesus het gehuil oor die dood van sy vriend Lasarus — al was Hy van plan om hom uit die dood op te wek.
Aan die kruis het Jesus gefokus op die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, wat Hom in staat gestel het om 'n gesindheid van genade en vergifnis te hê en sy teregstellers te vergewe. Tog, in daardie oomblik, het Jesus steeds sy Vader in ’n weeklaag aangeroep: “... waarom het U My verlaat ...?” (Matteus 27:46b).
God is nie 'n gevoellose God wat die pyn van sy skepping onwrikbaar van bo af dophou nie. Jesus wys self dat ons God kan bevraagteken in ons seerste oomblikke. God, as mens, het gehuil oor menslike verlies. Jesus het nie opgehou om sy Vader se liefde te vertrou of in 'n wonderwerk vir Lasarus te glo nie; Hy het eenvoudig heelhartige hartseer deur sy trane uitgespreek. Hy het getreur in tye van verlies en pyn.
Watter verliese of situasies lyk waardig om oor te treur? Hoe kan jy Jesus volg deur vir jou vriende, familie en kerk 'n voorbeeld van gesonde droefheid te wees?
Bid: Vader, U is 'n God wat huil. 'n God wat omgee vir u skepping en ons aanmoedig om te treur. Help my om my emosies te voel, my pyn te voel en trane te huil. Help my om soos Jesus U te midde van hierdie gevoelens te vertrou. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hoe kan ons die regte gesindheid in elke situasie betoon? Wat is die regte gesindheid? Hierdie 7-dag leesplan vind antwoorde in die lewe en leringe van Christus. Laat hierdie daaglikse aanmoedigings, nadenkende gebede en kragtige Skrifte die denkwyse van Christus in jou vorm.
More