Lewensbeginsels Waarvolgens Jy Kan LeefVoorbeeld

Life Principles To Live By

DAG 26 VAN 36

'n Las of 'n Brug?

Lewensbeginsel 26: Teenspoed is 'n brug na 'n dieper verhouding met God.

Wat is God se doel met teenspoed? Sy basiese doel is om ons nader aan Homself te trek. Hy put nie vreugde uit pyn en lyding nie, maar gebruik dit om ons oor sy liefde en getrouheid te leer.

Die oomblik as teenspoed kom, neem ons kwesbaarheid toe en dan begin ons wonder waarom God toelaat dat ons deur so 'n moeilike tyd gaan. Pyn, lyding en teleurstelling is effektiewe maniere wat Hy gebruik om ons nader aan Hom en die kruis te bring, waar ons ontdek dat ons 'n Verlosser nodig het. Ons kom met 'n skok agter: Ek het God nodig. Ons het sy krag, wysheid en vergifnis nodig.

Elke keer as teenspoed op jou pad kom, onthou net dat God dit met 'n doel toelaat. Hy is altyd in beheer. Hy het 'n plan en 'n doel; nie net in hierdie geval nie, maar ook vir jou hele lewe. In tye van nood is Hy 'n sterk vesting (Spreuke 18:10), en Hy het belowe om jou nooit te verlaat nie.

Wanneer teenspoed kom, moet ons eerstens na God toe draai en Hom vra wat Hy wil hê ons uit dié situasie moet leer. Ons mag dalk eers worstel met gevoelens van ongeloof en ontkenning, maar die oorheersende gedagte moet altyd een van volle vertroue en geloof in God se vermoë wees. Ons volgende stap is om ons toewyding aan Hom te bevestig en ons fokus op Hom te plaas — nie op ons omstandighede nie.

Moet nooit vergeet dat God weet wat die toekoms inhou nie! Hy verstaan dat ons voordeel trek uit teenspoed en hoe dit gebruik kan word om jou geloof te versterk, jou hoop te louter en jou tot op 'n plek van tevredenheid en vertroue te bring. Sonder tye van teenspoed sal jy die kragtige ervaring mis om saam met God deur jou donker tye te gaan.

Wees dus doelgerig en fokus op Jesus. Moenie toelaat dat negatiewe woorde van mense jou van koers af bring nie. Bly naby aan die Here in oordenking en gebed. Lees sy Woord. Hy sal jou deur moeilike tye lei en jy sal besef wat dit beteken om 'n geseënde lewe te leef.

Dag 25Dag 27

Aangaande hierdie leesplan

Life Principles To Live By

Gedurende sy meer as 60 jaar in die bediening, het dr. Charles Stanley die 30 lewensbeginsels getrou beklemtoon wat hom gelei en help groei het in sy kennis, diens en liefde vir God. Laat hom toe om jou te help om elkeen van hierdie beginsels deeglik te ondersoek, om jou te leer hoe om hulle elke dag prakties toe te pas en om jou te lei om die oorvloedige lewe te kan geniet wat Christus vir jou wil gee.  

More

Ons wil graag "In Touch Ministries" vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Besoek gerus https://intouch.cc/lp-journal vir meer inligting.