Lewensbeginsels Waarvolgens Jy Kan LeefVoorbeeld
Saam in die Christelike Lewe
Lewensbeginsel 28: Geen Christen was al ooit geroep om die pad van geloof alleen te stap nie.
In Hebreërs 10:25 maak die skrywer dit duidelik dat gelowiges nooit moet ophou om bymekaar te kom nie. God wil hê dat ons gereeld met ander gelowiges vergader — Hy wil sy mense in die kerk hê! Ongelukkig is daar diésulkes wat nie hierdie vermaning ernstig opneem nie. Ons hoor dikwels die refrein: "Ek kan God by die huis aanbid. Ek hoef nie kerk toe te gaan nie." Baie glo die enigste rede waarom ons kerk toe gaan is vir aanbidding — en dis verstaanbaar. Ons noem dit ook 'n aanbiddingsdiens.
As aanbidding die enigste rede was waarom ons beveel word om bymekaar te kom, dan het dié mense wat glo hulle kan by die huis aanbid, 'n sterk argument. Aanbidding is egter nie die enigste rede nie. Dis ook nie dat ons God se waarheid geleer word nie. Ons kan ons radio's en televisies aanskakel en webtuistes besoek om suiwer Bybelse leringe te hoor. Op die oog af lyk dit of enige iets wat ons in die kerk kan doen, net sowel by die huis gedoen kan word.
Hoekom word ons dus beveel om bymekaar te kom? Hoekom behoort ons kerk toe te gaan?
Die skrywer van Hebreërs sê dit is om ons te vrywaar van dwaling. Ons is die liggaam van Christus, en wanneer ons saam met ander gelowiges is, doen ons wat natuurlik kom en wat ons in die hiernamaals gaan doen — om saam te wees in sy teenwoordigheid. Saam vorm ons die kerk en wanneer ons saam is, versterk ons mekaar deur gebed, gemeenskap en bemoediging.
Vyandelike magte is gedurig rondom ons aan die werk; besig om ons van koers af te dwing. Individuele toewyding alleen is nie genoeg om ons op koers te hou nie. Ons het ander gelowiges nodig — en hulle het ons nodig. Wanneer ons ons lewe aan Christus oorgee, gebruik Hy ons op talle maniere waarvan ons nie eens bewus is nie.
Die aanspreeklikheid en bemoediging wat ons in die kerk ondervind, is ons anker teen die storms van die lewe wat daarop uit is om ons te laat wegdryf. Om die gereelde byeenkomste met mede-Christene te verwaarloos, is om hierdie essensiële element in die ontwikkeling van ons geloof te verbeur.
Gereelde kerkbywoning mag nooit gesien word as iets wat jy doen om God se guns te wen nie. Dit moet eerder die aansporing wees om geestelik te groei. Vra God om jou na 'n kerk te lei wat die suiwer Woord van God bedien, en wat sy liefde, genade en vergifnis aan almal demonstreer. Wanneer Hy dit doen, sal jy vind dat Hy jou gelei het na 'n kerk waar jy waarlik tuis kan wees.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Gedurende sy meer as 60 jaar in die bediening, het dr. Charles Stanley die 30 lewensbeginsels getrou beklemtoon wat hom gelei en help groei het in sy kennis, diens en liefde vir God. Laat hom toe om jou te help om elkeen van hierdie beginsels deeglik te ondersoek, om jou te leer hoe om hulle elke dag prakties toe te pas en om jou te lei om die oorvloedige lewe te kan geniet wat Christus vir jou wil gee.
More