PSALMS 78:40-72

PSALMS 78:40-72 Bybel vir almal (ABA)

Hulle was baie maal opstandig teen Hom, hulle het Hom hartseer gemaak daar in die woestyn, die wilde plek. Hulle het God elke maal weer getoets, hulle het die Heilige God van Israel hartseer gemaak. Hulle wou nie onthou wat Hy gedoen het nie, daardie tyd toe hulle swaargekry het en toe Hy hulle gered het, daardie tyd toe Hy in Egipte tekens en wonderwerke gedoen het, daar in die land waar die stad Soan is. Hy het die riviere, die waterstrome, verander, en dit het bloed geword sodat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Hy het steekvlieë gestuur wat hulle gebyt het en paddas wat hulle land verwoes het. Hy het hulle plante vir die sprinkane gegee, die sprinkane het alles op hulle koringlande en in hulle tuine opgevreet. Hy het hael gestuur om hulle wingerde stukkend te slaan en Hy het ryp gestuur om hulle vyebome te laat doodgaan. Hy het hael en weerlig gestuur om hulle beeste en hulle skape en bokke dood te slaan. God het hulle laat voel hoe kwaad Hy is, Hy wou hulle baie swaar laat kry, Hy het vir hulle boodskappers gestuur om te sê dat mense sal sterf. Hy was kwaad, baie kwaad, en Hy het dit vir hulle gewys. Hy het nie hulle lewe gespaar nie, Hy het hulle laat sterf van pes. Hy het die oudste seun van elke familie van die Egiptenaars laat sterf in Egipte, in die woonplek van die nageslag van Gam. Maar Hy het sy eie volk weggelei soos 'n herder sy skape en bokke weglei. Hy het hulle deur die woestyn gelei en Hy het hulle gebring waar hulle veilig kan wees en nie bang nie. Maar hulle vyande het in die see verdrink. God het sy volk gebring na sy gewyde land, na die berg wat Hy geneem het om aan Hom te behoort. Hy het ander volke uit hulle lande weggejaag sodat sy eie volk daar kon woon. Hy het hulle lande vir die stamme van Israel gegee en Hy het hulle laat woon in daardie volke se woonplek. Maar die Hoogste God se volk het Hom getoets, hulle was opstandig teen Hom, hulle het nie gedoen wat Hy vir hulle gesê het nie. Hulle het weggegaan van Hom, hulle was ontrou soos hulle voorvaders. Hulle was soos 'n boog wat skeef was en nie reg kon skiet nie. Hulle het God kwaad gemaak, want hulle het offer-plekke gebou, hulle het Hom baie kwaad gemaak, want hulle het beelde aanbid. God het geweet wat hulle doen en Hy het baie kwaad geword, Hy het die Israeliete heeltemal gelos. Hy het die tempel in Silo gelos, die plek waar Hy tussen mense gewoon het. Hy het nie gekeer toe die vyande sy verbondskis vat nie, die kis waar Hy, die sterk Koning, aan sy mense verskyn het. Hy het sy volk laat sterf in oorlog, Hy was kwaad vir die mense van sy eie land. Hulle jongmanne het verbrand, en daar was niemand met wie hulle jongmeisies kon trou nie. Hulle priesters het in die oorlog gesterf, en daar was nie tyd vir die weduwees om te rou nie. Maar toe het die Here wakker geword soos iemand wakker word nadat hy geslaap het, soos iemand wat weer reg word nadat hy te veel wyn gedrink het. Hy het sy vyande hard geslaan, Hy het hulle vir altyd verneder. Hy het die tempel gelos wat by die Josef-stam was, Hy het nie weer die Efraim-stam gekies nie. Hy het die Juda-stam gekies, die Sionsberg waarvoor Hy lief geword het. Hy het sy tempel daar gebou, dit was hoog en vas soos die hemel en die aarde wat Hy vir altyd vas laat staan. Hy het sy dienaar Dawid gekies en hom weggeneem van die skaapkrale, Hy het hom van die lammer-ooie weggeneem om die herder te wees van sy volk, die nageslag van Jakob, Israel. Dawid het goed regeer oor hulle, hy was 'n wyse koning.

PSALMS 78:40-72 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis; en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie; toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan. En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie. Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het. En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan. Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp. Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse. Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, 'n uitsending van ongeluksbodes. Hy het 'n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee. En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam. Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos 'n kudde in die woestyn. Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek. En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het. En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in húlle tente laat woon. Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie. En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos 'n bedrieglike boog. En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek. God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp. En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense. En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander. En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel. Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie. Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos 'n held wat oorweldig is deur die wyn; en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle 'n ewige smaadheid aangedoen. En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie, maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet. En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het. En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.

PSALMS 78:40-72 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hoe dikwels was hulle in die woestyn opstandig teen Hom en het hulle Hom daar in die barre wêreld bedroef! Oor en oor het hulle God getart en het hulle optrede die Heilige van Israel gegrief. Hulle het nie aan sy mag gedink nie, aan die dag waarop Hy hulle van die vyand verlos het nie: Hy het in Egipte sy magtige dade gedoen, sy wonders in die veld by Soan; Hy het hulle riviere in bloed verander sodat hulle nie uit hulle waterstrome kon drink nie; Hy het swerms muggies tussen hulle ingestuur wat nie opgehou het met byt nie; ook paddas, en dié het die lewe vir hulle ondraaglik gemaak; Hy het hulle oes aan sprinkaanswerms gegee, die vrug van hulle arbeid laat afvreet; Hy het hulle wingerde deur die hael laat wegslaan, hulle wildevyebome laat versuip; Hy het hulle vee aan die hael oorgegee, hulle kuddes aan die weerligstrale; Hy het sy gloeiende toorn op hulle losgelaat: gramskap, woede en rampe, 'n hele vrag onheil; Hy het sy toorn vrye loop gegee, hulle lewens nie gespaar nie en hulle aan die pes uitgelewer; Hy het al die eersgeborenes van die Egiptenaars getref, die eerstelinge in die wonings van Gam. Maar sy eie volk het Hy uitgelei en hulle soos 'n kudde skape deur die woestyn laat trek. Vir hulle het Hy veilig gelei, en hulle was nie bang nie, maar hulle vyande, dié is deur die see oorweldig. Hy het sy volk gebring na die gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het. Hy het nasies voor sy volk uit verdryf en aan sy volk 'n land as besitting gegee. Hy het daardie nasies se woonplekke aan die stamme van Israel gegee. Maar hulle het God die Allerhoogste getart en teen Hom in opstand gekom. Hulle was nie aan sy gebooie gehoorsaam nie. Net soos hulle voorvaders was hulle afvallig en ontrou, so vals soos 'n onbetroubare wapen. Hulle het Hom vertoorn met hulle afgodsdiens op die hoogtes en Hom uitgetart met hulle gesnede beelde. Toe God dit sien, het Hy kwaad geword en Israel verwerp. Hy het die tabernakel in Silo verwoes, die tent waarin Hy onder die mense gewoon het. Hy het die volk wat Hy deur sy mag verower het, in ballingskap weggestuur, sy uitverkore volk in die mag van die vyand gegee. Hy het sy volk aan die swaard oorgegee, kwaad geword vir dié wat aan Hom behoort. Die jongmanne het in die vuur omgekom: daar is nie meer huweliksliedere vir die jongmeisies gesing nie. Die priesters het deur die swaard gesterf, die weduwees het nie kans gekry om hulle mans te begrawe nie. Daarna het die Here weer ingegryp. Dit was asof Hy geslaap het, soos iemand wat in 'n roes was en nou wakker geword het. Hy het sy vyande teruggedryf en hulle vir altyd 'n eerlose neerlaag laat ly. Hy het die geslag van Josef verwerp en teen die stam Efraim gekies. Hy het die stam Juda verkies, Sionsberg wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom hemelhoog gebou en dit soos die aarde vir altyd vas laat staan. Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom weggehaal om sy volk Jakob, sy eiendom Israel, te versorg. Dawid het die volk met toewyding versorg en hulle met oorleg gelei.

PSALMS 78:40-72 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hoe dikwels was hulle nie opstandig teen Hom in die woestyn nie, het hulle Hom nie gegrief in die wildernis nie. Hulle het God weer uitgedaag, en die •Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie onthou wat sy hand gedoen het nie, dié dag toe Hy hulle vrygekoop het van die teenstander, toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders op die vlakte van Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander, ook hulle strome – hulle kon glad nie daarvan drink nie. Hy het steekvlieë onder hulle losgelaat, en dit het hulle geteister; ook paddas, en dit het verwoesting onder hulle aangerig. Hy het hulle opbrengs aan kaalvretersprinkane gegee, die vrug van hulle arbeid aan treksprinkane. Hy het hulle wingerdstokke deur hael vernietig, en hulle wildevyebome deur 'n verwoestende vloed. Hy het hulle beeste aan hael oorgegee, en hulle vee aan weerligstrale. Hy het sy brandende toorn onder hulle ingestuur: gramskap, vervloeking en benoudheid – 'n hele afdeling boodskappers van onheil. Hy het die weg gebaan vir sy toorn; Hy het hulle nie van die dood weggehou nie, maar hulle lewens aan pessiektes uitgelewer. Hy het elke •eersgeborene in Egipte getref, die eerstelinge van hulle manlike krag in die tente van Gam. Maar soos kleinvee het Hy sy volk laat wegtrek. Toe het Hy hulle soos 'n kudde in die woestyn gelei, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie verskrik was nie. Hulle vyande is deur die see oorstroom. Hy het hulle na sy •heilige grondgebied gebring, na die berg wat sy regterhand verwerf het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf. Hy het wat aan hulle behoort, met 'n maatlyn opgemeet as erfdeel, en die stamme van Israel in húlle tente laat woon. Maar hulle was opstandig en het God, die Allerhoogste, uitgedaag; hulle het nie sy bepalings nagekom nie. Hulle was afvallig en ontrou soos hulle voorouers; hulle het verander in 'n slap boog. Hulle het Hom uitgetart met hulle offerhoogtes, met hulle afgodsbeelde het hulle Hom ontstel. Toe God dit hoor, het Hy woedend geword en het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel by Silo prysgegee, die tent waarin Hy tussen mense gewoon het. Hy het sy krag in ballingskap oorgegee, sy heerlikheid in die hande van teenstanders. Hy het sy volk aan die swaard uitgelewer; Hy het woedend geword vir sy eiendom. Hulle jong manne is deur vuur verteer, en hulle jongmeisies is nie met liedere geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het my Heer asof uit die slaap wakker geword, soos 'n held uit die roes van wyn. Hy het sy teenstanders teruggedryf en ewige bespotting oor hulle gebring. Hy het die tent van Josef verwerp en die stam van Efraim nie gekies nie. Maar Hy het die stam van Juda gekies, die berg Sion wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom soos die hoogste hemele gebou, soos die aarde, wat Hy vir altyd gevestig het. Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies, en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom laat haal om Jakob, sy volk, op te pas, Israel, sy eiendom. Dawid het hulle met 'n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei.

PSALMS 78:40-72 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hoe dikwels het hulle hom in die woestyn geterg en hom bedroef in die woestyn! Ja, hulle het omgedraai en God versoek, en die Heilige van Israel beperk. Hulle het nie aan sy hand gedink nie en ook nie aan die dag toe hy hulle van die vyand verlos het nie. Hoe Hy sy tekens in Egipte gedoen het en sy wonders in die veld van Soan. En hulle het hulle riviere in bloed verander; en hulle strome, dat hulle nie kon drink nie. Hy het verskillende soorte vlieë onder hulle gestuur wat hulle verteer het; en paddas wat hulle vernietig het. Hy het ook hulle opbrings aan die ruspe gegee en hulle arbeid aan die sprinkaan. Hy het hulle wingerde met hael vernietig en hulle wildevyebome met ryp. Hy het ook hulle vee aan die hael oorgegee en hulle kleinvee aan warm donderstrale. Hy het die gloed van sy toorn, toorn en grimmigheid en benoudheid op hulle gewerp deur bose engele onder hulle te stuur. Hy het 'n pad na sy toorn gebaan; Hy het hulle siel van die dood nie gespaar nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee; En al die eersgeborenes in Egipte verslaan; die hoof van hulle sterkte in die tente van Gam; Maar sy eie mense het soos skape laat uittrek en hulle soos 'n kudde in die woestyn gelei. En Hy het hulle veilig verder gelei, sodat hulle nie bang was nie, maar die see het hulle vyande oorweldig. En hy het hulle gebring na die grens van sy heiligdom, tot by hierdie berg wat sy regterhand gekoop het. Hy het ook die nasies voor hulle uitgedryf en vir hulle 'n erfdeel per lyn verdeel en die stamme van Israel in hulle tente laat woon. Maar hulle het die Allerhoogste God versoek en geterg en sy getuienisse nie gehou nie. Maar hulle het omgedraai en ontrou gehandel soos hulle vaders; hulle het afgewyk soos 'n bedrieglike boog. Want hulle het Hom tot toorn gemaak deur hulle hoogtes en Hom tot ywer verwek met hulle gesnede beelde. Toe God dit hoor, was Hy toornig en het 'n afsku gehad van Israel. Sodat hy die tabernakel van Silo, die tent wat hy onder die mense opgerig het, verlaat het; En het sy krag in ballingskap oorgegee en sy heerlikheid in die hand van die vyand. Hy het ook sy volk aan die swaard oorgegee; en was kwaad vir sy erfdeel. Die vuur het hulle jongmanne verteer; en hulle meisies is nie aan die huwelik gegee nie. Hulle priesters het deur die swaard geval; en hulle weduwees het nie geklaag nie. Toe het die HERE wakker geword soos 'n slapende en soos 'n held wat skreeu vanweë die wyn. En hy het sy vyande in die agterste dele verslaan; hy het hulle ewige smart aangedoen. Verder het hy die tabernakel van Josef geweier en die stam van Efraim nie uitverkies nie. Maar hy het die stam van Juda gekies, die berg Sion wat hy liefgehad het. En Hy het sy heiligdom gebou soos hoë paleise, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrond het. Hy het ook sy dienaar Dawid gekies en hom uit die skaapkrale geneem. Van agter die groot ooie het hy hom gebring om Jakob sy volk en Israel sy erfdeel te laat wei. En hy het hulle gevoed volgens die opregtheid van sy hart; en hulle gelei deur die vaardigheid van sy hande.

PSALMS 78:40-72 Die Boodskap (DB)

Baiekeer het Israel in die woestyn gemaak of hulle God glad nie ken nie. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het Hom kwaad gemaak. Hulle het Hom hartseer gemaak. Oor en oor het hulle God se geduld beproef. Hulle het Israel se heilige God in die gesig gevat! Hulle het gou-gou vergeet dat Hy hulle gered het toe hulle vyande hulle wou doodmaak, en watter wonders Hy in Egipte gedoen het, daar in die veld van Soan. Hy het riviere in bloed verander, g’n mens kon daarvan drink nie. Hy het steekvlieë gestuur om die mense uitmekaar te steek. Hy het paddas gestuur om alles te verwoes. Hy het sprinkane die Egiptenaars se oeste laat opvreet. Hy het hael al hulle wingerde laat stukkend slaan, kwaai ryp het hulle vrugtebome laat doodgaan. Hy het hael op hulle diere laat neerreën en swaar donderweer op hulle vee. God se woede het Egipte hard getref. Sy woede het soos ’n vuur gebrand, ’n wavrag vol onheil het Hy op hulle losgelaat. Hy was woedend vir hulle. Boodskappers van die dood het hulle getref. Pes en siekte was hulle voorland. Al die oudste seuns in die huise in Egipte het Hy doodgemaak, al die oudste kinders wat van Gam afstam. Maar die Here het sy eie volk laat wegtrek. Soos ’n goeie skaapwagter het Hy hulle deur die woestyn gelei. Hy het sy volk goed opgepas sodat hulle nie bang was nie. Al hulle vyande het in die see verdrink. Hy het sy volk na die land toe gebring wat Hy vir hulle uitgesoek het, na die bergland wat die Here self gekies het. Hy het self hierdie gebied vir hulle verower. Ander volke het Hy voor hulle weggejaag, sodat hulle die land gekry het wat God vir hulle gekies het. Daar het al die stamme van Israel ’n blyplek gekry, waar die ander nasies eens gebly het. Maar die Israeliete het geweier om na God te luister. Hulle het teen Hom gerebelleer. Hulle het die Allerhoogste se voorskrifte die een na die ander verwerp. Hulle het hulle glad nie aan God gesteur nie, presies soos hulle ouers. Die hele spul was totaal onbetroubaar! Hulle het God se geduld getoets deur tot ander gode te bid en Hom kwaad gemaak toe hulle voor beelde wat uitgekerf is, gebuig het. Toe God sien wat aangaan, het Hy baie kwaad geword. Net daar het Hy sy rug vir Israel gedraai. Die tabernakel in Silo waar die volk gebid het, het Hy verwerp. Vroeër het Hy hier gebly. God het sy volk oorgegee in die hand van hulle vyande, want hulle het sy groot Naam vertrap. Hy het hulle uit die land weggejaag. Hy het toegelaat dat ander mense sy volk doodmaak, met sy eiendom wou Hy niks te doen hê nie. Jongmans het in die vuur doodgebrand. Later was daar niemand meer oor om met die meisies te trou nie. Selfs die priesters is in die oorlog doodgemaak. Hulle weduwees het nie eens ’n kans gehad om oor hulle te huil nie. Toe, skielik, het die Here weer op die toneel verskyn! Dit was of Hy uit ’n diep slaap wakker geword het soos iemand wat in ’n roes was na hy te veel wyn gedrink het. Hy het sy vyande met ’n ystervuis getref, hulle onderstebo geloop. So erg het hulle nog nooit verloor nie. Die Here het nie die stam van Josef as leier gekies nie, ook nie die stam van Efraim nie. Sy keuse het op Juda geval. Die Sionsberg waarvoor Hy so lief is, was sy keuse. Daar het God sy heilige plek gebou. Dit het bo alles uitgetroon, vas en stewig. Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom tussen die skape gaan uithaal. Die Here het hom gaan haal daar tussen die jong skape om sy volk Jakob op te pas en sy hand oor Israel te hou. Dawid was ’n goeie herder. Hy het hulle goed gelei en met liefde versorg.

PSALMS 78:40-72 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef! Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig. Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand, toe Hy sy tekens in Egipte getoon het, en sy wonders in die veld by Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander sodat niemand uit hulle strome kon drink nie. Hy het muggies gestuur om hulle te byt, en paddas om hulle te verwoes. Hy het hulle oeste aan sprinkane gegee; hulle hele opbrengs is opgevreet. Hy het hulle wingerde met hael verwoes en hulle wildevyebome met ryp verniel. Hy het die vee aan hael oorgegee, hulle skape aan weerligstrale. Hy het sy toorn teen hulle losgelaat: woede, gramskap en ellende was vir U hulle boodskappers van onheil. Dit was ’n weg vir sy toorn: Hy het hulle lewens nie gespaar nie, maar hulle oorgegee aan die pes. Al die eersgeborenes in Egipte het Hy getref, al die oudste seuns in die wonings van Gam. Maar sy eie volk het Hy soos skape uitgelei, en soos ’n kudde skape hulle deur die woestyn gelei. Hy het hulle veilig gelei sodat hulle nie bang was nie, maar hulle vyande is deur die see oorweldig. Hy het hulle gebring na ’n gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf, die land as erfdeel aan hulle gegee, en die stamme van Israel in hulle woonplekke gevestig. Hulle het egter die Allerhoogste beproef, teen Hom in opstand gekom, en sy gebooie nie gehoorsaam nie. Hulle was afvallig en ontrou net soos hulle voorouers. Hulle was net so onbetroubaar soos ’n onbruikbare boog. Hulle het God ook kwaad gemaak met afgodsdiens op die hoogtes. Met hulle afgodsbeelde het hulle Hom uitgetart. Toe God dit hoor, was Hy kwaad. Hy het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel in Silo verlaat. Dit was sy tentwoning onder mense. Hy het sy magtige ark prysgegee, sy glorie in die hande van vyande. Hy het sy volk uitgelewer aan die swaard, want vir sy besondere eiendom was Hy kwaad. Hulle jong manne is deur vuur verteer, vir hulle jong meisies is geen huwelikslied gesing nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het die Here ontwaak soos iemand uit sy slaap, soos ’n sterk man ontwaak uit die bedwelming van wyn. Hy het sy vyande teruggedryf en vir altyd aan skande oorgegee. Hy het Josef se nageslag verwerp; die stam van Efraim het Hy nie gekies nie. Maar die stam van Juda het Hy gekies, vir Sionsberg, wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom baie hoog gebou, stewig vir altyd soos die aarde self. Hy het sy dienskneg Dawid gekies, hom van die skaapkrale af gaan haal. Van agter die lammerooie het Hy hom weggevat om sy volk Jakob te versorg, sy eie volk, Israel. Hy het hulle met ’n opregte hart versorg en hulle met bekwame hande gelei.