PSALMS 78:40-72

PSALMS 78:40-72 AFR53

Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis; en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie; toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan. En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie. Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het. En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan. Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp. Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse. Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, 'n uitsending van ongeluksbodes. Hy het 'n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee. En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam. Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos 'n kudde in die woestyn. Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek. En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het. En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in húlle tente laat woon. Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie. En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos 'n bedrieglike boog. En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek. God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp. En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense. En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander. En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel. Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie. Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos 'n held wat oorweldig is deur die wyn; en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle 'n ewige smaadheid aangedoen. En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie, maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet. En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het. En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.