PSALMS 78:40-72

PSALMS 78:40-72 AFR83

Hoe dikwels was hulle in die woestyn opstandig teen Hom en het hulle Hom daar in die barre wêreld bedroef! Oor en oor het hulle God getart en het hulle optrede die Heilige van Israel gegrief. Hulle het nie aan sy mag gedink nie, aan die dag waarop Hy hulle van die vyand verlos het nie: Hy het in Egipte sy magtige dade gedoen, sy wonders in die veld by Soan; Hy het hulle riviere in bloed verander sodat hulle nie uit hulle waterstrome kon drink nie; Hy het swerms muggies tussen hulle ingestuur wat nie opgehou het met byt nie; ook paddas, en dié het die lewe vir hulle ondraaglik gemaak; Hy het hulle oes aan sprinkaanswerms gegee, die vrug van hulle arbeid laat afvreet; Hy het hulle wingerde deur die hael laat wegslaan, hulle wildevyebome laat versuip; Hy het hulle vee aan die hael oorgegee, hulle kuddes aan die weerligstrale; Hy het sy gloeiende toorn op hulle losgelaat: gramskap, woede en rampe, 'n hele vrag onheil; Hy het sy toorn vrye loop gegee, hulle lewens nie gespaar nie en hulle aan die pes uitgelewer; Hy het al die eersgeborenes van die Egiptenaars getref, die eerstelinge in die wonings van Gam. Maar sy eie volk het Hy uitgelei en hulle soos 'n kudde skape deur die woestyn laat trek. Vir hulle het Hy veilig gelei, en hulle was nie bang nie, maar hulle vyande, dié is deur die see oorweldig. Hy het sy volk gebring na die gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het. Hy het nasies voor sy volk uit verdryf en aan sy volk 'n land as besitting gegee. Hy het daardie nasies se woonplekke aan die stamme van Israel gegee. Maar hulle het God die Allerhoogste getart en teen Hom in opstand gekom. Hulle was nie aan sy gebooie gehoorsaam nie. Net soos hulle voorvaders was hulle afvallig en ontrou, so vals soos 'n onbetroubare wapen. Hulle het Hom vertoorn met hulle afgodsdiens op die hoogtes en Hom uitgetart met hulle gesnede beelde. Toe God dit sien, het Hy kwaad geword en Israel verwerp. Hy het die tabernakel in Silo verwoes, die tent waarin Hy onder die mense gewoon het. Hy het die volk wat Hy deur sy mag verower het, in ballingskap weggestuur, sy uitverkore volk in die mag van die vyand gegee. Hy het sy volk aan die swaard oorgegee, kwaad geword vir dié wat aan Hom behoort. Die jongmanne het in die vuur omgekom: daar is nie meer huweliksliedere vir die jongmeisies gesing nie. Die priesters het deur die swaard gesterf, die weduwees het nie kans gekry om hulle mans te begrawe nie. Daarna het die Here weer ingegryp. Dit was asof Hy geslaap het, soos iemand wat in 'n roes was en nou wakker geword het. Hy het sy vyande teruggedryf en hulle vir altyd 'n eerlose neerlaag laat ly. Hy het die geslag van Josef verwerp en teen die stam Efraim gekies. Hy het die stam Juda verkies, Sionsberg wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom hemelhoog gebou en dit soos die aarde vir altyd vas laat staan. Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom weggehaal om sy volk Jakob, sy eiendom Israel, te versorg. Dawid het die volk met toewyding versorg en hulle met oorleg gelei.