Hoe dikwels was hulle nie
opstandig teen Hom
in die woestyn nie,
het hulle Hom nie gegrief
in die wildernis nie.
Hulle het God weer uitgedaag,
en die •Heilige van Israel gekrenk.
Hulle het nie onthou
wat sy hand gedoen het nie,
dié dag toe Hy hulle vrygekoop het
van die teenstander,
toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte
en sy wonders op die vlakte van Soan.
Hy het hulle riviere
in bloed verander,
ook hulle strome –
hulle kon glad nie daarvan drink nie.
Hy het steekvlieë onder hulle
losgelaat,
en dit het hulle geteister;
ook paddas,
en dit het verwoesting onder hulle
aangerig.
Hy het hulle opbrengs
aan kaalvretersprinkane gegee,
die vrug van hulle arbeid
aan treksprinkane.
Hy het hulle wingerdstokke
deur hael vernietig,
en hulle wildevyebome
deur 'n verwoestende vloed.
Hy het hulle beeste
aan hael oorgegee,
en hulle vee aan weerligstrale.
Hy het sy brandende toorn
onder hulle ingestuur:
gramskap, vervloeking
en benoudheid –
'n hele afdeling boodskappers
van onheil.
Hy het die weg gebaan vir sy toorn;
Hy het hulle nie van die dood
weggehou nie,
maar hulle lewens aan pessiektes
uitgelewer.
Hy het elke •eersgeborene
in Egipte getref,
die eerstelinge van hulle
manlike krag in die tente van Gam.
Maar soos kleinvee
het Hy sy volk laat wegtrek.
Toe het Hy hulle soos 'n kudde
in die woestyn gelei,
Hy het hulle veilig gelei,
sodat hulle nie verskrik was nie.
Hulle vyande is deur die see oorstroom.
Hy het hulle na sy •heilige
grondgebied gebring,
na die berg wat sy regterhand
verwerf het.
Hy het nasies voor hulle uit verdryf.
Hy het wat aan hulle behoort,
met 'n maatlyn opgemeet as erfdeel,
en die stamme van Israel
in húlle tente laat woon.
Maar hulle was opstandig
en het God, die Allerhoogste,
uitgedaag;
hulle het nie sy bepalings nagekom nie.
Hulle was afvallig en ontrou
soos hulle voorouers;
hulle het verander in 'n slap boog.
Hulle het Hom uitgetart
met hulle offerhoogtes,
met hulle afgodsbeelde
het hulle Hom ontstel.
Toe God dit hoor,
het Hy woedend geword
en het Israel heeltemal verwerp.
Hy het die tabernakel by Silo
prysgegee,
die tent waarin Hy
tussen mense gewoon het.
Hy het sy krag in ballingskap
oorgegee,
sy heerlikheid in die hande
van teenstanders.
Hy het sy volk aan die swaard
uitgelewer;
Hy het woedend geword vir sy eiendom.
Hulle jong manne
is deur vuur verteer,
en hulle jongmeisies
is nie met liedere geprys nie.
Hulle priesters
het deur die swaard geval
en hulle weduwees kon nie rou nie.
Toe het my Heer asof
uit die slaap wakker geword,
soos 'n held uit die roes van wyn.
Hy het sy teenstanders teruggedryf
en ewige bespotting oor hulle gebring.
Hy het die tent van Josef verwerp
en die stam van Efraim nie gekies nie.
Maar Hy het die stam van Juda
gekies,
die berg Sion wat Hy liefhet.
Hy het sy heiligdom
soos die hoogste hemele gebou,
soos die aarde,
wat Hy vir altyd gevestig het.
Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies,
en hom van die skaapkrale af
weggeneem.
Agter die lammerooie
het Hy hom laat haal
om Jakob, sy volk, op te pas,
Israel, sy eiendom.
Dawid het hulle
met 'n opregte hart opgepas;
met die vaardigheid van sy hande
het hy hulle gelei.