PSALMS 78:40-72

PSALMS 78:40-72 NLV

Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef! Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig. Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand, toe Hy sy tekens in Egipte getoon het, en sy wonders in die veld by Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander sodat niemand uit hulle strome kon drink nie. Hy het muggies gestuur om hulle te byt, en paddas om hulle te verwoes. Hy het hulle oeste aan sprinkane gegee; hulle hele opbrengs is opgevreet. Hy het hulle wingerde met hael verwoes en hulle wildevyebome met ryp verniel. Hy het die vee aan hael oorgegee, hulle skape aan weerligstrale. Hy het sy toorn teen hulle losgelaat: woede, gramskap en ellende was vir U hulle boodskappers van onheil. Dit was ’n weg vir sy toorn: Hy het hulle lewens nie gespaar nie, maar hulle oorgegee aan die pes. Al die eersgeborenes in Egipte het Hy getref, al die oudste seuns in die wonings van Gam. Maar sy eie volk het Hy soos skape uitgelei, en soos ’n kudde skape hulle deur die woestyn gelei. Hy het hulle veilig gelei sodat hulle nie bang was nie, maar hulle vyande is deur die see oorweldig. Hy het hulle gebring na ’n gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf, die land as erfdeel aan hulle gegee, en die stamme van Israel in hulle woonplekke gevestig. Hulle het egter die Allerhoogste beproef, teen Hom in opstand gekom, en sy gebooie nie gehoorsaam nie. Hulle was afvallig en ontrou net soos hulle voorouers. Hulle was net so onbetroubaar soos ’n onbruikbare boog. Hulle het God ook kwaad gemaak met afgodsdiens op die hoogtes. Met hulle afgodsbeelde het hulle Hom uitgetart. Toe God dit hoor, was Hy kwaad. Hy het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel in Silo verlaat. Dit was sy tentwoning onder mense. Hy het sy magtige ark prysgegee, sy glorie in die hande van vyande. Hy het sy volk uitgelewer aan die swaard, want vir sy besondere eiendom was Hy kwaad. Hulle jong manne is deur vuur verteer, vir hulle jong meisies is geen huwelikslied gesing nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het die Here ontwaak soos iemand uit sy slaap, soos ’n sterk man ontwaak uit die bedwelming van wyn. Hy het sy vyande teruggedryf en vir altyd aan skande oorgegee. Hy het Josef se nageslag verwerp; die stam van Efraim het Hy nie gekies nie. Maar die stam van Juda het Hy gekies, vir Sionsberg, wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom baie hoog gebou, stewig vir altyd soos die aarde self. Hy het sy dienskneg Dawid gekies, hom van die skaapkrale af gaan haal. Van agter die lammerooie het Hy hom weggevat om sy volk Jakob te versorg, sy eie volk, Israel. Hy het hulle met ’n opregte hart versorg en hulle met bekwame hande gelei.