Psalms 78:40-72

Psalms 78:40-72 ABA

Hulle was baie maal opstandig teen Hom, hulle het Hom hartseer gemaak daar in die woestyn, die wilde plek. Hulle het God elke maal weer getoets, hulle het die Heilige God van Israel hartseer gemaak. Hulle wou nie onthou wat Hy gedoen het nie, daardie tyd toe hulle swaargekry het en toe Hy hulle gered het, daardie tyd toe Hy in Egipte tekens en wonderwerke gedoen het, daar in die land waar die stad Soan is. Hy het die riviere, die waterstrome, verander, en dit het bloed geword sodat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Hy het steekvlieë gestuur wat hulle gebyt het en paddas wat hulle land verwoes het. Hy het hulle plante vir die sprinkane gegee, die sprinkane het alles op hulle koringlande en in hulle tuine opgevreet. Hy het hael gestuur om hulle wingerde stukkend te slaan en Hy het ryp gestuur om hulle vyebome te laat doodgaan. Hy het hael en weerlig gestuur om hulle beeste en hulle skape en bokke dood te slaan. God het hulle laat voel hoe kwaad Hy is, Hy wou hulle baie swaar laat kry, Hy het vir hulle boodskappers gestuur om te sê dat mense sal sterf. Hy was kwaad, baie kwaad, en Hy het dit vir hulle gewys. Hy het nie hulle lewe gespaar nie, Hy het hulle laat sterf van pes. Hy het die oudste seun van elke familie van die Egiptenaars laat sterf in Egipte, in die woonplek van die nageslag van Gam. Maar Hy het sy eie volk weggelei soos 'n herder sy skape en bokke weglei. Hy het hulle deur die woestyn gelei en Hy het hulle gebring waar hulle veilig kan wees en nie bang nie. Maar hulle vyande het in die see verdrink. God het sy volk gebring na sy gewyde land, na die berg wat Hy geneem het om aan Hom te behoort. Hy het ander volke uit hulle lande weggejaag sodat sy eie volk daar kon woon. Hy het hulle lande vir die stamme van Israel gegee en Hy het hulle laat woon in daardie volke se woonplek. Maar die Hoogste God se volk het Hom getoets, hulle was opstandig teen Hom, hulle het nie gedoen wat Hy vir hulle gesê het nie. Hulle het weggegaan van Hom, hulle was ontrou soos hulle voorvaders. Hulle was soos 'n boog wat skeef was en nie reg kon skiet nie. Hulle het God kwaad gemaak, want hulle het offer-plekke gebou, hulle het Hom baie kwaad gemaak, want hulle het beelde aanbid. God het geweet wat hulle doen en Hy het baie kwaad geword, Hy het die Israeliete heeltemal gelos. Hy het die tempel in Silo gelos, die plek waar Hy tussen mense gewoon het. Hy het nie gekeer toe die vyande sy verbondskis vat nie, die kis waar Hy, die sterk Koning, aan sy mense verskyn het. Hy het sy volk laat sterf in oorlog, Hy was kwaad vir die mense van sy eie land. Hulle jongmanne het verbrand, en daar was niemand met wie hulle jongmeisies kon trou nie. Hulle priesters het in die oorlog gesterf, en daar was nie tyd vir die weduwees om te rou nie. Maar toe het die Here wakker geword soos iemand wakker word nadat hy geslaap het, soos iemand wat weer reg word nadat hy te veel wyn gedrink het. Hy het sy vyande hard geslaan, Hy het hulle vir altyd verneder. Hy het die tempel gelos wat by die Josef-stam was, Hy het nie weer die Efraim-stam gekies nie. Hy het die Juda-stam gekies, die Sionsberg waarvoor Hy lief geword het. Hy het sy tempel daar gebou, dit was hoog en vas soos die hemel en die aarde wat Hy vir altyd vas laat staan. Hy het sy dienaar Dawid gekies en hom weggeneem van die skaapkrale, Hy het hom van die lammer-ooie weggeneem om die herder te wees van sy volk, die nageslag van Jakob, Israel. Dawid het goed regeer oor hulle, hy was 'n wyse koning.