Psalms 78:40-72

Psalms 78:40-72 DB

Baiekeer het Israel in die woestyn gemaak of hulle God glad nie ken nie. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het Hom kwaad gemaak. Hulle het Hom hartseer gemaak. Oor en oor het hulle God se geduld beproef. Hulle het Israel se heilige God in die gesig gevat! Hulle het gou-gou vergeet dat Hy hulle gered het toe hulle vyande hulle wou doodmaak, en watter wonders Hy in Egipte gedoen het, daar in die veld van Soan. Hy het riviere in bloed verander, g’n mens kon daarvan drink nie. Hy het steekvlieë gestuur om die mense uitmekaar te steek. Hy het paddas gestuur om alles te verwoes. Hy het sprinkane die Egiptenaars se oeste laat opvreet. Hy het hael al hulle wingerde laat stukkend slaan, kwaai ryp het hulle vrugtebome laat doodgaan. Hy het hael op hulle diere laat neerreën en swaar donderweer op hulle vee. God se woede het Egipte hard getref. Sy woede het soos ’n vuur gebrand, ’n wavrag vol onheil het Hy op hulle losgelaat. Hy was woedend vir hulle. Boodskappers van die dood het hulle getref. Pes en siekte was hulle voorland. Al die oudste seuns in die huise in Egipte het Hy doodgemaak, al die oudste kinders wat van Gam afstam. Maar die Here het sy eie volk laat wegtrek. Soos ’n goeie skaapwagter het Hy hulle deur die woestyn gelei. Hy het sy volk goed opgepas sodat hulle nie bang was nie. Al hulle vyande het in die see verdrink. Hy het sy volk na die land toe gebring wat Hy vir hulle uitgesoek het, na die bergland wat die Here self gekies het. Hy het self hierdie gebied vir hulle verower. Ander volke het Hy voor hulle weggejaag, sodat hulle die land gekry het wat God vir hulle gekies het. Daar het al die stamme van Israel ’n blyplek gekry, waar die ander nasies eens gebly het. Maar die Israeliete het geweier om na God te luister. Hulle het teen Hom gerebelleer. Hulle het die Allerhoogste se voorskrifte die een na die ander verwerp. Hulle het hulle glad nie aan God gesteur nie, presies soos hulle ouers. Die hele spul was totaal onbetroubaar! Hulle het God se geduld getoets deur tot ander gode te bid en Hom kwaad gemaak toe hulle voor beelde wat uitgekerf is, gebuig het. Toe God sien wat aangaan, het Hy baie kwaad geword. Net daar het Hy sy rug vir Israel gedraai. Die tabernakel in Silo waar die volk gebid het, het Hy verwerp. Vroeër het Hy hier gebly. God het sy volk oorgegee in die hand van hulle vyande, want hulle het sy groot Naam vertrap. Hy het hulle uit die land weggejaag. Hy het toegelaat dat ander mense sy volk doodmaak, met sy eiendom wou Hy niks te doen hê nie. Jongmans het in die vuur doodgebrand. Later was daar niemand meer oor om met die meisies te trou nie. Selfs die priesters is in die oorlog doodgemaak. Hulle weduwees het nie eens ’n kans gehad om oor hulle te huil nie. Toe, skielik, het die Here weer op die toneel verskyn! Dit was of Hy uit ’n diep slaap wakker geword het soos iemand wat in ’n roes was na hy te veel wyn gedrink het. Hy het sy vyande met ’n ystervuis getref, hulle onderstebo geloop. So erg het hulle nog nooit verloor nie. Die Here het nie die stam van Josef as leier gekies nie, ook nie die stam van Efraim nie. Sy keuse het op Juda geval. Die Sionsberg waarvoor Hy so lief is, was sy keuse. Daar het God sy heilige plek gebou. Dit het bo alles uitgetroon, vas en stewig. Hy het Dawid as sy dienaar gekies en hom tussen die skape gaan uithaal. Die Here het hom gaan haal daar tussen die jong skape om sy volk Jakob op te pas en sy hand oor Israel te hou. Dawid was ’n goeie herder. Hy het hulle goed gelei en met liefde versorg.