Psalms 78:40-72

Psalms 78:40-72 AFR20

Hoe dikwels was hulle nie opstandig teen Hom in die woestyn nie, het hulle Hom nie gegrief in die wildernis nie. Hulle het God weer uitgedaag, en die •Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie onthou wat sy hand gedoen het nie, dié dag toe Hy hulle vrygekoop het van die teenstander, toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders op die vlakte van Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander, ook hulle strome – hulle kon glad nie daarvan drink nie. Hy het steekvlieë onder hulle losgelaat, en dit het hulle geteister; ook paddas, en dit het verwoesting onder hulle aangerig. Hy het hulle opbrengs aan kaalvretersprinkane gegee, die vrug van hulle arbeid aan treksprinkane. Hy het hulle wingerdstokke deur hael vernietig, en hulle wildevyebome deur 'n verwoestende vloed. Hy het hulle beeste aan hael oorgegee, en hulle vee aan weerligstrale. Hy het sy brandende toorn onder hulle ingestuur: gramskap, vervloeking en benoudheid – 'n hele afdeling boodskappers van onheil. Hy het die weg gebaan vir sy toorn; Hy het hulle nie van die dood weggehou nie, maar hulle lewens aan pessiektes uitgelewer. Hy het elke •eersgeborene in Egipte getref, die eerstelinge van hulle manlike krag in die tente van Gam. Maar soos kleinvee het Hy sy volk laat wegtrek. Toe het Hy hulle soos 'n kudde in die woestyn gelei, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie verskrik was nie. Hulle vyande is deur die see oorstroom. Hy het hulle na sy •heilige grondgebied gebring, na die berg wat sy regterhand verwerf het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf. Hy het wat aan hulle behoort, met 'n maatlyn opgemeet as erfdeel, en die stamme van Israel in húlle tente laat woon. Maar hulle was opstandig en het God, die Allerhoogste, uitgedaag; hulle het nie sy bepalings nagekom nie. Hulle was afvallig en ontrou soos hulle voorouers; hulle het verander in 'n slap boog. Hulle het Hom uitgetart met hulle offerhoogtes, met hulle afgodsbeelde het hulle Hom ontstel. Toe God dit hoor, het Hy woedend geword en het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel by Silo prysgegee, die tent waarin Hy tussen mense gewoon het. Hy het sy krag in ballingskap oorgegee, sy heerlikheid in die hande van teenstanders. Hy het sy volk aan die swaard uitgelewer; Hy het woedend geword vir sy eiendom. Hulle jong manne is deur vuur verteer, en hulle jongmeisies is nie met liedere geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het my Heer asof uit die slaap wakker geword, soos 'n held uit die roes van wyn. Hy het sy teenstanders teruggedryf en ewige bespotting oor hulle gebring. Hy het die tent van Josef verwerp en die stam van Efraim nie gekies nie. Maar Hy het die stam van Juda gekies, die berg Sion wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom soos die hoogste hemele gebou, soos die aarde, wat Hy vir altyd gevestig het. Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies, en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom laat haal om Jakob, sy volk, op te pas, Israel, sy eiendom. Dawid het hulle met 'n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei.