PSALMS 78:1-39

PSALMS 78:1-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Gedig van Asaf. Luister na wat ek jou leer, my volk, luister aandagtig na wat ek sê. Ek gaan 'n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het. Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee, aan Israel sy onderwysing. Hy het ons voorvaders beveel om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel. So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het en nie wees soos die voorvaders nie. Dié was 'n opstandige en ongehoorsame volk, 'n onbestendige geslag wat nie aan God getrou was nie. Die Efraimiete was goed gewapen en bedrewe met die boog, maar toe die geveg begin, het hulle gevlug. Hulle het die verbond met God nie gehou nie, en geweier om te lewe soos Hy hulle geleer het. Hulle het vergeet van sy werke, van die wonderdade wat Hy hulle laat sien het. Voor die oë van hulle voorvaders het Hy wonders gedoen in Egipte, in die veld by Soan. Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water laat opdam en dit het soos 'n muur gestaan. Bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei, snags met die lig van 'n vuur. Hy het rotse in die woestyn oopgekloof en soos by groot waterstrome almal se dors geles. Hy het water uit die rots laat stroom, dit soos riviere laat vloei. Maar hulle het aangehou om teen Hom te sondig; in die woestyn het hulle teen die Allerhoogste in opstand gekom. Hulle het God getart toe hulle kos gevra het na eie smaak en God uitgedaag het: “Kan God hier in die woestyn kos gee? Hy het wel teen 'n rots laat slaan en die waters het gevloei, spruite het gestroom; maar sou Hy ook brood kon gee en vleis aan sy volk kon voorsit?” Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword; Hy het 'n vuur teen Jakob laat ontbrand, teen Israel sy toorn laat woed omdat hulle nie op God vertrou het en op sy hulp staatgemaak het nie. Hy het die wolke daarbo gebied en die deure van die hemel oopgemaak: Hy het manna op hulle laat reën, uit die hemel kos aan hulle gegee om te eet. Van hierdie brood uit die hemel het elkeen geëet. God het vir hulle oorgenoeg kos gestuur. Hy het die oostewind laat opsteek en deur sy krag die suidewind laat waai. Soos sandkorrels, so baie voëls het Hy op hulle laat reën, voëls so volop soos die sand van die see. Hy het dit in die kamp rondom hulle tente laat val. Hulle het geëet, meer as genoeg, Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het. Maar hulle gulsigheid het geen perke geken nie. Hulle kos was nog so in hulle mond, toe tref die toorn van God hulle. Hy het 'n slagting onder die grotes aangerig, die keur van Israel laat omkom. Tog het hulle bly sondig en sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie. Daarom het Hy hulle hulle dae vrugteloos laat deurbring en hulle jare vol kommer. Elke keer as God 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle na sy wil gevra, hulle bekeer en na Hom toe gekom. Hulle het bely dat God hulle rots, dat die Allerhoogste hulle verlosser is. Maar hulle was vals teenoor Hom, hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie, hulle was ontrou aan Hom, hulle het hulle nie aan sy verbond gehou nie. Maar Hy is genadig, Hy vergewe sonde, Hy wis sy volk nie uit nie. Dikwels het Hy sy toorn bedwing en sy gramskap nie laat losbreek nie. Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie.

PSALMS 78:1-39 Bybel vir almal (ABA)

'n Lied. Van Asaf. My volk, julle moet luister na wat ek vir julle leer, julle moet goed luister na wat ek vir julle sê. Ek wil dit doen soos wyse mense dit doen, ek wil praat oor dinge waarvan julle nie weet nie, dinge wat lank gelede gebeur het. Ons het dit gehoor en ons weet dit, ons voorvaders het dit vir ons vertel. Ons wil dit nie wegsteek vir hulle nageslag nie, ons wil aanhou om vir die volgende geslag te vertel hoekom hulle die Here moet prys. Ons wil vertel van die Here se krag en van die wonderwerke wat Hy gedoen het. Hy het vir die nageslag van Jakob, vir Israel, gesê wat Hy wil hê, wat hulle moet doen. Hy het vir ons voorvaders gesê hulle moet dit vir hulle kinders leer. Elke volgende geslag moet weet wat die Here wil hê, elke kind wat gebore sal word, en hulle moet dit ook vir hulle kinders leer. Hulle moet glo dat God hulle sal help. Hulle moenie vergeet wat Hy gedoen het nie en hulle moet doen wat Hy gesê het. Hulle moenie soos hulle voorvaders wees nie, want hulle voorvaders was hardkoppig en opstandig, hulle het nie aangehou om in God te glo nie, hulle was ontrou aan Hom. Die mense van Efraim kon met pyl en boog veg maar hulle het gevlug toe die oorlog begin. Hulle het nie gedoen wat die verbond van God sê nie, hulle wou nie lewe soos Hy wil hê nie. Hulle het vergeet wat God gedoen het, hulle het die wonderwerke vergeet wat Hy vir hulle gewys het. Hulle voorvaders het gesien toe God 'n wonderwerk doen in die land Egipte, die land waar die stad Soan is. Hy het 'n pad deur die see gemaak en Hy het hulle laat deurloop, die water het soos 'n muur gestaan. God het sy volk in die dag gelei met 'n wolk en elke nag het Hy hulle met die lig van 'n vuur gelei. God het rotse oopgebreek in die woestyn en Hy het sy volk laat drink van die water diep onder die aarde. Hy het strome water uit klip laat kom, die water het gevloei soos riviere. Maar die mense van Efraim het aangehou om sonde te doen teen God, hulle was opstandig teen die Hoogste God in die land waar daar nie water is nie. Hulle het God getoets en hulle het die kos gevra waarvoor hulle lus was. Hulle het teen God gepraat, hulle het gevra: “Kan God in die woestyn vir ons kos gee om te eet? Dit is waar, Hy het 'n rots geslaan, en daar het water uitgestroom, daar het riviere gevloei. Maar kan God ook brood gee, of kan hy vir sy volk vleis bring?” Daarom, toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword. Dit was soos 'n vuur wat gebrand het teen die nageslag van Jakob, teen Israel. God was kwaad omdat hulle nie geglo het dat Hy sal doen wat Hy belowe het nie, hulle het nie geglo dat Hy hulle sal red nie. Hy het wolke van bo af gestuur en Hy het die deure van die hemeldak oopgemaak. Hy het manna op hulle laat reën sodat hulle dit kon eet. Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee. Mense het brood van engele geëet, God het vir hulle kos gestuur, meer as genoeg. Hy wat sterk is, het die wind laat waai uit die ooste en uit die suide. Hy het vleis op hulle laat reën, dit was voëls, so baie soos stof, so baie soos die sand by die see. Die voëls het binne-in die kamp geval, rondom hulle tente. Hulle het geëet en meer as genoeg gekry, God het vir hulle die kos gebring waarvoor hulle lus was. Maar hulle wou aanhou en aanhou eet. Die kos was nog in hulle mond, toe het God kwaad geword vir hulle. Hy het van hulle vetste manne begin doodmaak, Hy het die jongmanne van Israel laat sterf. God het dit alles gedoen, maar hulle het aangehou om sonde te doen, hulle het nie geglo dat dit Hý is wat die wonderwerke gedoen het nie. God het hulle laat sterf. Hulle lewens het niks beteken nie, dit was soos wind, hulle was elke dag bekommerd en bang. Elke maal wanneer God party mense laat sterf het, dan het die ander mense na Hom toe teruggekom en gesê dat hulle jammer is en dat hulle wil doen wat Hy wil hê. Hulle het dan gesê dit is God wat hulle Rots is, dit is die Hoogste God wat hulle kan vrymaak. Maar hulle wou Hom bedrieg, hulle het dinge gesê, maar hulle was vals. Hulle het nie regtig in God geglo nie, hulle het nie gedoen wat Hy gesê het toe Hy 'n verbond met hulle gemaak het nie. En God? Hy was genadig, Hy het hulle sonde vergewe, Hy het hulle nie almal laat sterf nie. Hy het baie maal weer goed geword vir hulle, Hy het nie vir hulle kwaad gebly nie. Hy het onthou dat hulle mense is, hulle is soos wind wat verbywaai en dan is dit weg.

PSALMS 78:1-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N ONDERWYSING van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond. Ek wil my mond open met 'n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het. Hy tog het 'n getuienis opgerig in Jakob en 'n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het — om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, en nie word soos hulle vaders nie, 'n koppige en wederstrewige geslag, 'n geslag met 'n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog. Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet. En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan. Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos 'n wal. En Hy het hulle bedags gelei met 'n wolk en die hele nag met 'n lig van vuur. Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere. Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land. En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin. En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God 'n tafel kan dek in die woestyn? Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het — sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en 'n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel; omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie. En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur. Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer; en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë; en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings. Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. Hulle was nie weg van hul begeerte nie — hulle voedsel was nog in hulle mond — toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy 'n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het. Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking. Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser. En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie. En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, 'n wind wat weggaan en nie terugkom nie.

PSALMS 78:1-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Maskiel . Van Asaf. My volk, luister na my onderrig; spits julle ore vir die woorde uit my mond. Ek gaan my mond oopmaak vir 'n spreuk, ek gaan raaisels uit die verlede na vore haal. Wat ons gehoor het en weet, wat ons voorouers aan ons vertel het, mag ons nie vir ons kinders wegsteek nie. Aan die volgende geslag sal ons die roemryke dade van die HERE vertel: van sy mag en die wonders wat Hy gedoen het. Hy het 'n bepaling neergelê in Jakob, 'n wet vasgestel in Israel: Wat Hy ons voorouers beveel het, moet aan hulle kinders bekend gemaak word, sodat die volgende geslag dit sal weet, die kinders wat nog gebore moet word, sal opstaan en dit aan hulle kinders vertel, en sodat húlle weer hulle vertroue in God kan stel, God se dade nie vergeet nie en kan hou by sy bevele. Hulle mag nie soos hulle voorouers wees nie – 'n hardkoppige en opstandige geslag, wie se harte onbestendig was en wie se gees nie aan God getrou was nie. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het teruggeval op die dag van die geveg. Hulle het nie God se verbond nagekom nie; en sy wet het hulle geweier om te volg. Hulle het sy dade vergeet, sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Voor die oë van hulle voorouers het Hy wonders gedoen in Egipteland, op die vlakte van Soan. Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek; Hy het die water laat opdam soos 'n wal. Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags, en die hele nag met die lig van vuur. Hy het rotse oopgekloof in die woestyn, en hulle baie laat drink, asof daar 'n vloed was. Hy het strome uit die rotswand laat vloei, en water laat afloop soos riviere. Maar hulle het steeds voortgegaan om teen Hom te sondig, om in die dorre streek teen die Allerhoogste opstandig te wees. Hulle het God doelbewus uitgedaag deur kos te vra wat hulle begeer. Hulle het hulle teen God uitgespreek; hulle het gesê: “Kan God 'n tafel dek in die woestyn? Kyk, Hy het 'n rots geslaan en water het uitgestroom, spruite het gevloei. Sou Hy ook brood kon gee of vleis voorberei vir sy volk?” Daarom, toe die HERE dit hoor, het Hy woedend geword, en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob. Ook het sy toorn opgevlam teen Israel, omdat hulle nie in God geglo het nie, en nie op sy verlossing vertrou het nie. Hy het die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak. Hy het manna om te eet op hulle laat reën, koring van die hemel het Hy aan hulle gegee, die brood van engele – mense het dit geëet. Padkos het Hy vir hulle gestuur – tot versadiging toe. Hy het die oostewind in die hemel laat losbars; en deur sy krag die suidewind laat waai. Hy het vleis soos stof op hulle laat neerreën, vlieënde voëls soos die sand van die oseane. Hy het dit binne-in sy kamp laat val, reg rondom sy verblyfplek. Hulle het geëet en was heeltemal versadig; Hy het wat hulle begeer het, vir hulle gebring. Hulle het nog nie weggedraai van wat hulle begeer het nie, hulle kos was nog in hulle monde, toe laai God se toorn al teen hulle op. Hy het onder hulle vettes 'n slagting aangerig en die jong manne van Israel op hulle knieë gedwing. Ten spyte hiervan het hulle steeds gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy hulle dae laat eindig in nietigheid, en hulle jare in verskrikking. Wanneer Hy 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle Hom geraadpleeg; hulle het teruggedraai en God gesoek. Hulle het onthou dat God hulle rots is, dat God, die Allerhoogste, hulle losser is. Maar hulle het Hom probeer oorreed met die mond en het vir Hom bly lieg met die tong. Hulle harte was nie standvastig teenoor Hom nie; hulle was nie getrou aan sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig; Hy bedek hulle sondeskuld; Hy delg hulle nie uit nie. Hy hou dikwels sy toorn terug en laat nie sy woede ten volle ontwaak nie. Hy dink daaraan dat hulle vlees is, net maar 'n asemteug wat gaan en nie weer terugkeer nie.

PSALMS 78:1-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Luister, o my volk, na my wet; neig julle ore tot die woorde van my mond. Ek sal my mond oopmaak in 'n gelykenis: Ek sal duistere woorde uit die ou tyd uitspreek: Wat ons gehoor en geken het, en ons vaders het ons vertel. Ons sal hulle nie vir hulle kinders verberg nie, en aan die toekomstige geslag die lofsange van die HERE en sy sterkte en sy wonderdade wat Hy gedoen het, verkondig. Want Hy het 'n getuienis in Jakob opgerig en 'n wet in Israel aangestel wat Hy ons vaders beveel het om dit aan hulle kinders bekend te maak. Sodat die komende geslag hulle kan ken, ja, die kinders wat gebore moet word; wie moet opstaan en dit aan hulle kinders verkondig: sodat hulle op God kan hoop en die werke van God nie vergeet nie, maar sy gebooie bewaar. En mag nie wees soos hulle vaders nie, 'n hardkoppige en opstandige geslag; 'n geslag wat hul hart nie reggestel het nie, en wie se gees nie standvastig was by God nie. Die kinders van Efraim, wat gewapen was en boog gedra het, het omgedraai in die dag van oorlog. Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om in sy wet te wandel; En hy het sy werke vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Hy het wonderlike dinge gedoen in die oë van hulle vaders, in Egipteland, in die veld van Soan. Hy het die see verdeel en hulle laat deurtrek; en hy het die waters soos 'n hoop laat staan. Ook bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei en die hele nag met 'n lig van vuur. Hy het die rotse in die woestyn gekloof en hulle laat drink soos uit die groot dieptes. Hy het ook strome uit die rots gebring en waters soos riviere laat afloop. En hulle het nog meer teen Hom gesondig deur die Allerhoogste in die woestyn te terg. En hulle het God in hulle hart versoek deur voedsel te vra vir hulle begeerlikheid. Ja, hulle het teen God gepraat; hulle sê: Kan God 'n tafel dek in die woestyn? Kyk, Hy het die rots geslaan, dat die waters gevloei het en die strome oorstroom het; kan hy ook brood gee? kan Hy vir sy volk vlees voorsien? Daarom het die HERE dit gehoor en toornig geword; Omdat hulle nie in God geglo het nie en nie op sy redding vertrou het nie; Al het Hy die wolke van bo af beveel en die deure van die hemel oopgemaak, En hy het manna op hulle laat reën om te eet en hulle van die hemelkorrel gegee. Die mens het engele se kos geëet: hy het vir hulle vleis oorgedra. Hy het 'n oostewind in die hemel laat waai, en deur sy krag het hy die suidewind ingebring. Hy het ook vleis op hulle laat reën soos stof, en geveerde voëls soos die sand van die see. En hy het dit in die middel van hulle laer laat val, rondom hulle woonplekke. En hulle het geëet en was goed versadig, want Hy het hulle hul eie begeerte gegee; Hulle was nie vervreemd van hulle begeerlikheid nie. Maar terwyl hulle vleis nog in hulle monde was, Die toorn van God het oor hulle gekom en die vetstes van hulle gedood en die uitverkore manne van Israel verslaan. Vir dit alles het hulle nog gesondig en nie geglo oor sy wonderdade nie. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid vernietig en hulle jare in benoudheid. Toe hy hulle gedood het, het hulle hom gesoek; en hulle het teruggekeer en vroeg na God geraadpleeg. En hulle het daaraan gedink dat God hulle rots was, en die Hoë God hulle Verlosser. Nogtans het hulle hom met hul mond gevlei en vir hom gelieg met hul tong. Want hulle hart was nie reg met hom nie, en hulle was nie standvastig in sy verbond nie. Maar Hy, wat vol medelye was, het hulle ongeregtigheid vergewe en hulle nie vernietig nie; Want hy het onthou dat hulle maar vlees was; 'n wind wat verbygaan en nie terugkom nie.

PSALMS 78:1-39 Die Boodskap (DB)

My vriende, luister nou baie mooi wat ek vir julle wil sê. Ek gaan julle leer. Maak julle ore oop sodat julle goed kan hoor! Ek wil ’n belangrike verhaal aan julle vertel, iets wat lank terug gebeur het en ’n mens nou nog laat wonder. Dis ’n verhaal wat ons by ons pa gehoor het en wat al ons kinders goed moet ken. Daarom vertel ons dit vir die jong geslag, sodat hulle kan weet van die groot dinge wat die Here gedoen het. Hulle moet weet hoe groot en sterk Hy is en watter buitengewone groot dinge Hy gedoen het. Hy het vir Jakob gesê hoe om te leef en aan Israel sy wet gegee. Die Here het ons oupas en oumas beveel om dit alles vir hulle kinders te vertel. Almal moet die kans kry om te hoor dat hulle in God moet glo. Ook ons kinders en kleinkinders moet daarvan kennis neem. Niemand mag ooit vergeet wat God gedoen het nie. So sal hulle leer om ook op God te vertrou. Hulle sal doen wat Hy sê. Mag die Here gee dat die jong geslag nooit soos hulle oupas en oumas sal maak nie. Dié het mos die rug vir die Here gedraai, ’n regte spul hardekoppe; daarom het hulle geweier om te doen wat Hy sê. Hulle was ontrou aan God. Ons verhaal begin by die Efraimiete: ’n klomp soldate wat baie goed kon veg. Maar toe die oorlog begin, het hulle weggehardloop. Want hulle het nie na God geluister nie. Hulle het nie die voorwaardes van sy ooreenkoms gehoorsaam nie. Hulle het gou vergeet watter groot dade God voor hulle oë gedoen het. Die Here het groot wonders voor hulle ouers se oë laat gebeur daar in Egipte, in die veld van Soan. Die Here het die see voor hulle laat oopgaan sodat hulle daardeur kon stap. Hy het die water daardie dag soos ’n muur laat opdam. Bedags het Hy ’n wolk gestuur om hulle te lei. En snags was daar ’n bol vuur in die lug om hulle op die regte pad te hou. Daar in die woestyn het God rotse oopgebreek en hulle dors weggevat deur vir hulle strome water uit die rots te gee om te drink. Strome, nee, riviere vol water het uit die rotse geloop. Nogtans het hulle aangehou om verkeerde dinge te doen. Daar in die woestyn het hulle geweier om na die Allerhoogste te luister. Hulle het teen Hom in opstand gekom. Hulle het God baie kwaad gemaak, want hulle wou allerhande luukshede by Hom hê; net die beste kos was vir hulle genoeg. Soos bedorwe kinders het hulle gesê: “Hoekom dek God nie vir ons ’n feesmaal hier in die woestyn nie? Hy kan mos ’n rots slaan dat jy net water sien spuit. Riviere kom mos uit rotse. Vir wat hou Hy dan nie ’n groot feesmaal vir sy volk met lekker brood en skottels vol vleis nie?” Die Here was baie kwaad toe Hy hoor wat hulle sê. Sy woede het soos ’n vuur op Jakob afgekom, soos ’n orkaan op Israel, want hulle wou nie in God glo nie. Hulle het nie op sy hulp staatgemaak nie. Gelukkig is God ’n goeie God; daarom het Hy sy volk gehelp. Hy het vir die wolke gesê: “Gaan oop!” Hy het die deure van die hemel oopgemaak. Hy het arms vol kos op hulle laat neerreën uit die hemel: manna, hemelse brood! Skielik het gewone mense dieselfde kos as engele in die hemel geëet. Elke dag was daar oorgenoeg kos vir almal. God het dit gestuur. Hy het ook die oostewind laat opkom en met die suidewind gepraat, toe val daar skielik voëls soos stof uit die lug op hulle af, ’n oorvloed vleis, so baie soos die sand van die see. Boonop het God hierdie voëls bo-op die volk se staanplek laat val, sommer tussen hulle tente. Die mense kon hulle honger heerlik stil. Daar was meer as genoeg vir elkeen. Hulle kon meer as genoeg eet. Maar hulle was nog nie tevrede nie. Hulle was gulsig. Hulle wou nog meer hê, selfs met hulle mond propvol kos! Toe het God kwaad geword vir hulle, Hy het die sterkstes onder hulle laat doodgaan. Al die jongmans van Israel het omgekom. Die volk het aangehou om verkeerde dinge te doen. Hulle het hulle net mooi niks aan God se wonders gesteur nie. Daarom dat God hulle lewe in die sand laat wegsyfer het. Hulle het vergaan. Elke keer as God hulle gestraf het, het hulle gou om genade kom smeek. Hulle het Hom gesoek en na Hom toe gedraai. Dan was hulle vinnig om te sê: “Ons kom kruip weg by God; die Allerhoogste is ons Redder.” Hulle het mooi woorde vir God gesê, maar niks daarmee bedoel nie. Hulle het kliphard gelieg! Hulle hart was ver van Hom af, hulle woorde en dade ook! Hulle het nie hulle ooreenkoms met Hom gehou nie. Gelukkig kry God mense jammer, Hy dink nie vir altyd aan hulle sondes nie; Hy sit nie net reg om te straf nie. Keer op keer vat God die straf weg wat Hy op mense wil loslaat, Hy hou gou op om vir mense kwaad te wees. God het onthou dat sy volk doodgewone mense is. Hulle is soos ’n wind wat ’n rukkie waai en dan verdwyn.

PSALMS 78:1-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

O my volk, luister na my lering. Gee ag op wat ek sê, want ek wil julle onderrig met ’n psalm. Ek wil julle lesse leer uit die verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorgeslagte ons vertel het, verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die HERE, van sy krag en van sy wonderdade. Hy het voorskrifte aan Jakob gegee, en sy gebooie aan Israel. Hy het ons voorouers beveel om dit aan hulle kinders te leer sodat die volgende geslag dit kan ken, en selfs die ongebore kinders weer húlle kinders kan leer. So sal hulle op God kan hoop, die werke van God nie vergeet nie, maar sy bevele gehoorsaam en nie soos hulle voorouers wees nie. Hulle is ’n ongehoorsame, opstandige geslag, wie se hart nie getrou was nie, wie se gees ontrou was aan God. Die Efraimiete was goed bewapen, met boogskutters in hulle leër. Maar op die dag van die geveg het hulle omgedraai. God se verbond het hulle nie gehou nie, en hulle het geweier om volgens sy voorskrifte te lewe. Hulle het sy dade vergeet, die wonders wat Hy hulle gewys het, en die wonders wat God gedoen het voor die oë van hulle voorouers in Egipte en in die vlaktes van Soan. Die see het Hy oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water soos mure laat staan. Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei, en snags met ’n lig van vuur. In die woestyn het Hy rotse gekloof, hulle laat drink asof uit diepwaters. Hy het waterstrome uit die rots laat vloei, die water soos riviere laat stroom. Tog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, en in die woestyn in opstand gekom teen Hom, die Allerhoogste. Met opset het hulle God beproef, en kos geëis na eie smaak. Hulle het God uitgedaag en gesê: “Kan God kos gee in die woestyn? Toe Hy ’n rots geslaan het, het daar water uitgekom en strome het gevloei, maar kan Hy ook brood verskaf en vleis gee vir sy volk?” Toe die HERE dit hoor, was Hy baie kwaad. ’n Vuur het teen Jakob ontbrand; sy toorn het teen Israel ontvlam, want hulle het God nie geglo nie, en nie op sy verlossing vertrou nie. Hy het die wolke daarbo beveel, die hemele se deure oopgemaak, Hy het manna op hulle laat reën om te eet, uit die hemel brood vir hulle gegee. Kos van engele het hulle geëet, kos in oorvloed het God gegee. Hy het die oostewind uit die hemel losgelaat, en deur sy groot krag die suidewind laat waai. Hy het vleis oor hulle soos sand laat reën, voëls soos die sand van die seestrand. Hy het dit in hulle kamp laat val, oral rondom hulle tente. Hulle het meer as genoeg geëet. Hy het gegee wat hulle gevra het. Maar hulle honger was nog nie gestil nie. Met die kos nog in hulle mond, het die toorn van God hulle getref. Hy het die sterkste manne neergevel, en die room van Israel neergeslaan. Tog het hulle aanhou sondig, en geweier om in sy wonders te glo. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid tot ’n einde laat kom, en hulle jare in onheil. Wanneer God sommige van hulle laat omkom, het hulle weer na sy wil gevra. Dan het hulle berou getoon en ywerig na God toe teruggekom. Hulle het onthou God is hulle rots, en die Allerhoogste hulle verlosser. Maar met die mond het hulle Hom bedrieg; en met die tong vir Hom gelieg. Hulle hart was ontrou aan Hom, sy verbond het hulle nie gehou nie. Tog was Hy genadig en het hulle sondes vergewe en nie hulle almal vernietig nie. Dikwels het Hy sy toorn teruggehou en sy woede nie losgelaat nie. Want Hy het daaraan gedink dat hulle sterflinge is, ’n asempie wat spoedig verdwyn en nooit weer terugkom nie.