PSALMS 78:1-39

PSALMS 78:1-39 NLV

O my volk, luister na my lering. Gee ag op wat ek sê, want ek wil julle onderrig met ’n psalm. Ek wil julle lesse leer uit die verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorgeslagte ons vertel het, verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die HERE, van sy krag en van sy wonderdade. Hy het voorskrifte aan Jakob gegee, en sy gebooie aan Israel. Hy het ons voorouers beveel om dit aan hulle kinders te leer sodat die volgende geslag dit kan ken, en selfs die ongebore kinders weer húlle kinders kan leer. So sal hulle op God kan hoop, die werke van God nie vergeet nie, maar sy bevele gehoorsaam en nie soos hulle voorouers wees nie. Hulle is ’n ongehoorsame, opstandige geslag, wie se hart nie getrou was nie, wie se gees ontrou was aan God. Die Efraimiete was goed bewapen, met boogskutters in hulle leër. Maar op die dag van die geveg het hulle omgedraai. God se verbond het hulle nie gehou nie, en hulle het geweier om volgens sy voorskrifte te lewe. Hulle het sy dade vergeet, die wonders wat Hy hulle gewys het, en die wonders wat God gedoen het voor die oë van hulle voorouers in Egipte en in die vlaktes van Soan. Die see het Hy oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water soos mure laat staan. Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei, en snags met ’n lig van vuur. In die woestyn het Hy rotse gekloof, hulle laat drink asof uit diepwaters. Hy het waterstrome uit die rots laat vloei, die water soos riviere laat stroom. Tog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, en in die woestyn in opstand gekom teen Hom, die Allerhoogste. Met opset het hulle God beproef, en kos geëis na eie smaak. Hulle het God uitgedaag en gesê: “Kan God kos gee in die woestyn? Toe Hy ’n rots geslaan het, het daar water uitgekom en strome het gevloei, maar kan Hy ook brood verskaf en vleis gee vir sy volk?” Toe die HERE dit hoor, was Hy baie kwaad. ’n Vuur het teen Jakob ontbrand; sy toorn het teen Israel ontvlam, want hulle het God nie geglo nie, en nie op sy verlossing vertrou nie. Hy het die wolke daarbo beveel, die hemele se deure oopgemaak, Hy het manna op hulle laat reën om te eet, uit die hemel brood vir hulle gegee. Kos van engele het hulle geëet, kos in oorvloed het God gegee. Hy het die oostewind uit die hemel losgelaat, en deur sy groot krag die suidewind laat waai. Hy het vleis oor hulle soos sand laat reën, voëls soos die sand van die seestrand. Hy het dit in hulle kamp laat val, oral rondom hulle tente. Hulle het meer as genoeg geëet. Hy het gegee wat hulle gevra het. Maar hulle honger was nog nie gestil nie. Met die kos nog in hulle mond, het die toorn van God hulle getref. Hy het die sterkste manne neergevel, en die room van Israel neergeslaan. Tog het hulle aanhou sondig, en geweier om in sy wonders te glo. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid tot ’n einde laat kom, en hulle jare in onheil. Wanneer God sommige van hulle laat omkom, het hulle weer na sy wil gevra. Dan het hulle berou getoon en ywerig na God toe teruggekom. Hulle het onthou God is hulle rots, en die Allerhoogste hulle verlosser. Maar met die mond het hulle Hom bedrieg; en met die tong vir Hom gelieg. Hulle hart was ontrou aan Hom, sy verbond het hulle nie gehou nie. Tog was Hy genadig en het hulle sondes vergewe en nie hulle almal vernietig nie. Dikwels het Hy sy toorn teruggehou en sy woede nie losgelaat nie. Want Hy het daaraan gedink dat hulle sterflinge is, ’n asempie wat spoedig verdwyn en nooit weer terugkom nie.