Psalms 78:1-39

Psalms 78:1-39 AFR20

'n Maskiel . Van Asaf. My volk, luister na my onderrig; spits julle ore vir die woorde uit my mond. Ek gaan my mond oopmaak vir 'n spreuk, ek gaan raaisels uit die verlede na vore haal. Wat ons gehoor het en weet, wat ons voorouers aan ons vertel het, mag ons nie vir ons kinders wegsteek nie. Aan die volgende geslag sal ons die roemryke dade van die HERE vertel: van sy mag en die wonders wat Hy gedoen het. Hy het 'n bepaling neergelê in Jakob, 'n wet vasgestel in Israel: Wat Hy ons voorouers beveel het, moet aan hulle kinders bekend gemaak word, sodat die volgende geslag dit sal weet, die kinders wat nog gebore moet word, sal opstaan en dit aan hulle kinders vertel, en sodat húlle weer hulle vertroue in God kan stel, God se dade nie vergeet nie en kan hou by sy bevele. Hulle mag nie soos hulle voorouers wees nie – 'n hardkoppige en opstandige geslag, wie se harte onbestendig was en wie se gees nie aan God getrou was nie. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het teruggeval op die dag van die geveg. Hulle het nie God se verbond nagekom nie; en sy wet het hulle geweier om te volg. Hulle het sy dade vergeet, sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Voor die oë van hulle voorouers het Hy wonders gedoen in Egipteland, op die vlakte van Soan. Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek; Hy het die water laat opdam soos 'n wal. Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags, en die hele nag met die lig van vuur. Hy het rotse oopgekloof in die woestyn, en hulle baie laat drink, asof daar 'n vloed was. Hy het strome uit die rotswand laat vloei, en water laat afloop soos riviere. Maar hulle het steeds voortgegaan om teen Hom te sondig, om in die dorre streek teen die Allerhoogste opstandig te wees. Hulle het God doelbewus uitgedaag deur kos te vra wat hulle begeer. Hulle het hulle teen God uitgespreek; hulle het gesê: “Kan God 'n tafel dek in die woestyn? Kyk, Hy het 'n rots geslaan en water het uitgestroom, spruite het gevloei. Sou Hy ook brood kon gee of vleis voorberei vir sy volk?” Daarom, toe die HERE dit hoor, het Hy woedend geword, en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob. Ook het sy toorn opgevlam teen Israel, omdat hulle nie in God geglo het nie, en nie op sy verlossing vertrou het nie. Hy het die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak. Hy het manna om te eet op hulle laat reën, koring van die hemel het Hy aan hulle gegee, die brood van engele – mense het dit geëet. Padkos het Hy vir hulle gestuur – tot versadiging toe. Hy het die oostewind in die hemel laat losbars; en deur sy krag die suidewind laat waai. Hy het vleis soos stof op hulle laat neerreën, vlieënde voëls soos die sand van die oseane. Hy het dit binne-in sy kamp laat val, reg rondom sy verblyfplek. Hulle het geëet en was heeltemal versadig; Hy het wat hulle begeer het, vir hulle gebring. Hulle het nog nie weggedraai van wat hulle begeer het nie, hulle kos was nog in hulle monde, toe laai God se toorn al teen hulle op. Hy het onder hulle vettes 'n slagting aangerig en die jong manne van Israel op hulle knieë gedwing. Ten spyte hiervan het hulle steeds gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy hulle dae laat eindig in nietigheid, en hulle jare in verskrikking. Wanneer Hy 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle Hom geraadpleeg; hulle het teruggedraai en God gesoek. Hulle het onthou dat God hulle rots is, dat God, die Allerhoogste, hulle losser is. Maar hulle het Hom probeer oorreed met die mond en het vir Hom bly lieg met die tong. Hulle harte was nie standvastig teenoor Hom nie; hulle was nie getrou aan sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig; Hy bedek hulle sondeskuld; Hy delg hulle nie uit nie. Hy hou dikwels sy toorn terug en laat nie sy woede ten volle ontwaak nie. Hy dink daaraan dat hulle vlees is, net maar 'n asemteug wat gaan en nie weer terugkeer nie.