'n Gedig van Asaf.
Luister na wat ek jou leer, my volk,
luister aandagtig na wat ek sê.
Ek gaan 'n gedig voordra,
ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede.
Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Ons sal aan die volgende geslag vertel
van die roemryke dade van die Here en van sy mag,
van die wonderdade wat Hy gedoen het.
Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee,
aan Israel sy onderwysing.
Hy het ons voorvaders beveel
om dit aan hulle kinders bekend te maak,
sodat die volgende geslag dit kan weet
en die kinders wat nog gebore sal word,
dit weer aan húlle kinders kan vertel.
So sal hulle dan op God vertrou
en nie vergeet wat Hy gedoen het nie,
maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het
en nie wees soos die voorvaders nie.
Dié was 'n opstandige en ongehoorsame volk,
'n onbestendige geslag wat nie aan God getrou was nie.
Die Efraimiete was goed gewapen en bedrewe met die boog,
maar toe die geveg begin, het hulle gevlug.
Hulle het die verbond met God nie gehou nie,
en geweier om te lewe soos Hy hulle geleer het.
Hulle het vergeet van sy werke,
van die wonderdade wat Hy hulle laat sien het.
Voor die oë van hulle voorvaders het Hy wonders gedoen
in Egipte, in die veld by Soan.
Hy het die see oopgekloof
en hulle laat deurtrek.
Hy het die water laat opdam
en dit het soos 'n muur gestaan.
Bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei,
snags met die lig van 'n vuur.
Hy het rotse in die woestyn oopgekloof
en soos by groot waterstrome almal se dors geles.
Hy het water uit die rots laat stroom,
dit soos riviere laat vloei.
Maar hulle het aangehou om teen Hom te sondig;
in die woestyn het hulle teen die Allerhoogste in opstand gekom.
Hulle het God getart
toe hulle kos gevra het na eie smaak
en God uitgedaag het:
“Kan God hier in die woestyn kos gee?
Hy het wel teen 'n rots laat slaan
en die waters het gevloei,
spruite het gestroom;
maar sou Hy ook brood kon gee
en vleis aan sy volk kon voorsit?”
Toe die Here dit hoor,
het Hy kwaad geword;
Hy het 'n vuur teen Jakob laat ontbrand,
teen Israel sy toorn laat woed
omdat hulle nie op God vertrou het
en op sy hulp staatgemaak het nie.
Hy het die wolke daarbo gebied
en die deure van die hemel oopgemaak:
Hy het manna op hulle laat reën,
uit die hemel kos aan hulle gegee om te eet.
Van hierdie brood uit die hemel het elkeen geëet.
God het vir hulle oorgenoeg kos gestuur.
Hy het die oostewind laat opsteek
en deur sy krag die suidewind laat waai.
Soos sandkorrels, so baie voëls het Hy op hulle laat reën,
voëls so volop soos die sand van die see.
Hy het dit in die kamp
rondom hulle tente laat val.
Hulle het geëet, meer as genoeg,
Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het.
Maar hulle gulsigheid het geen perke geken nie.
Hulle kos was nog so in hulle mond,
toe tref die toorn van God hulle.
Hy het 'n slagting onder die grotes aangerig,
die keur van Israel laat omkom.
Tog het hulle bly sondig
en sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie.
Daarom het Hy hulle hulle dae vrugteloos laat deurbring
en hulle jare vol kommer.
Elke keer as God 'n slagting onder hulle aangerig het,
het hulle na sy wil gevra,
hulle bekeer en na Hom toe gekom.
Hulle het bely dat God hulle rots,
dat die Allerhoogste hulle verlosser is.
Maar hulle was vals teenoor Hom,
hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie,
hulle was ontrou aan Hom,
hulle het hulle nie aan sy verbond gehou nie.
Maar Hy is genadig, Hy vergewe sonde,
Hy wis sy volk nie uit nie.
Dikwels het Hy sy toorn bedwing
en sy gramskap nie laat losbreek nie.
Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is,
wind wat verbywaai en nie terugkom nie.