Psalms 78:1-39

Psalms 78:1-39 ABA

'n Lied. Van Asaf. My volk, julle moet luister na wat ek vir julle leer, julle moet goed luister na wat ek vir julle sê. Ek wil dit doen soos wyse mense dit doen, ek wil praat oor dinge waarvan julle nie weet nie, dinge wat lank gelede gebeur het. Ons het dit gehoor en ons weet dit, ons voorvaders het dit vir ons vertel. Ons wil dit nie wegsteek vir hulle nageslag nie, ons wil aanhou om vir die volgende geslag te vertel hoekom hulle die Here moet prys. Ons wil vertel van die Here se krag en van die wonderwerke wat Hy gedoen het. Hy het vir die nageslag van Jakob, vir Israel, gesê wat Hy wil hê, wat hulle moet doen. Hy het vir ons voorvaders gesê hulle moet dit vir hulle kinders leer. Elke volgende geslag moet weet wat die Here wil hê, elke kind wat gebore sal word, en hulle moet dit ook vir hulle kinders leer. Hulle moet glo dat God hulle sal help. Hulle moenie vergeet wat Hy gedoen het nie en hulle moet doen wat Hy gesê het. Hulle moenie soos hulle voorvaders wees nie, want hulle voorvaders was hardkoppig en opstandig, hulle het nie aangehou om in God te glo nie, hulle was ontrou aan Hom. Die mense van Efraim kon met pyl en boog veg maar hulle het gevlug toe die oorlog begin. Hulle het nie gedoen wat die verbond van God sê nie, hulle wou nie lewe soos Hy wil hê nie. Hulle het vergeet wat God gedoen het, hulle het die wonderwerke vergeet wat Hy vir hulle gewys het. Hulle voorvaders het gesien toe God 'n wonderwerk doen in die land Egipte, die land waar die stad Soan is. Hy het 'n pad deur die see gemaak en Hy het hulle laat deurloop, die water het soos 'n muur gestaan. God het sy volk in die dag gelei met 'n wolk en elke nag het Hy hulle met die lig van 'n vuur gelei. God het rotse oopgebreek in die woestyn en Hy het sy volk laat drink van die water diep onder die aarde. Hy het strome water uit klip laat kom, die water het gevloei soos riviere. Maar die mense van Efraim het aangehou om sonde te doen teen God, hulle was opstandig teen die Hoogste God in die land waar daar nie water is nie. Hulle het God getoets en hulle het die kos gevra waarvoor hulle lus was. Hulle het teen God gepraat, hulle het gevra: “Kan God in die woestyn vir ons kos gee om te eet? Dit is waar, Hy het 'n rots geslaan, en daar het water uitgestroom, daar het riviere gevloei. Maar kan God ook brood gee, of kan hy vir sy volk vleis bring?” Daarom, toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword. Dit was soos 'n vuur wat gebrand het teen die nageslag van Jakob, teen Israel. God was kwaad omdat hulle nie geglo het dat Hy sal doen wat Hy belowe het nie, hulle het nie geglo dat Hy hulle sal red nie. Hy het wolke van bo af gestuur en Hy het die deure van die hemeldak oopgemaak. Hy het manna op hulle laat reën sodat hulle dit kon eet. Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee. Mense het brood van engele geëet, God het vir hulle kos gestuur, meer as genoeg. Hy wat sterk is, het die wind laat waai uit die ooste en uit die suide. Hy het vleis op hulle laat reën, dit was voëls, so baie soos stof, so baie soos die sand by die see. Die voëls het binne-in die kamp geval, rondom hulle tente. Hulle het geëet en meer as genoeg gekry, God het vir hulle die kos gebring waarvoor hulle lus was. Maar hulle wou aanhou en aanhou eet. Die kos was nog in hulle mond, toe het God kwaad geword vir hulle. Hy het van hulle vetste manne begin doodmaak, Hy het die jongmanne van Israel laat sterf. God het dit alles gedoen, maar hulle het aangehou om sonde te doen, hulle het nie geglo dat dit Hý is wat die wonderwerke gedoen het nie. God het hulle laat sterf. Hulle lewens het niks beteken nie, dit was soos wind, hulle was elke dag bekommerd en bang. Elke maal wanneer God party mense laat sterf het, dan het die ander mense na Hom toe teruggekom en gesê dat hulle jammer is en dat hulle wil doen wat Hy wil hê. Hulle het dan gesê dit is God wat hulle Rots is, dit is die Hoogste God wat hulle kan vrymaak. Maar hulle wou Hom bedrieg, hulle het dinge gesê, maar hulle was vals. Hulle het nie regtig in God geglo nie, hulle het nie gedoen wat Hy gesê het toe Hy 'n verbond met hulle gemaak het nie. En God? Hy was genadig, Hy het hulle sonde vergewe, Hy het hulle nie almal laat sterf nie. Hy het baie maal weer goed geword vir hulle, Hy het nie vir hulle kwaad gebly nie. Hy het onthou dat hulle mense is, hulle is soos wind wat verbywaai en dan is dit weg.