PSALMS 78:1-39

PSALMS 78:1-39 AFR53

'N ONDERWYSING van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond. Ek wil my mond open met 'n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het. Hy tog het 'n getuienis opgerig in Jakob en 'n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het — om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, en nie word soos hulle vaders nie, 'n koppige en wederstrewige geslag, 'n geslag met 'n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog. Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet. En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan. Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos 'n wal. En Hy het hulle bedags gelei met 'n wolk en die hele nag met 'n lig van vuur. Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere. Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land. En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin. En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God 'n tafel kan dek in die woestyn? Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het — sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en 'n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel; omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie. En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur. Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer; en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë; en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings. Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. Hulle was nie weg van hul begeerte nie — hulle voedsel was nog in hulle mond — toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy 'n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het. Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking. Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser. En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie. En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, 'n wind wat weggaan en nie terugkom nie.