'n Maskiel . Van Asaf.
My volk, luister na my onderrig;
spits julle ore vir die woorde
uit my mond.
Ek gaan my mond oopmaak
vir 'n spreuk,
ek gaan raaisels uit die verlede
na vore haal.
Wat ons gehoor het en weet,
wat ons voorouers aan ons vertel het,
mag ons nie vir ons kinders
wegsteek nie.
Aan die volgende geslag sal ons
die roemryke dade
van die HERE vertel:
van sy mag en die wonders
wat Hy gedoen het.
Hy het 'n bepaling neergelê in Jakob,
'n wet vasgestel in Israel:
Wat Hy ons voorouers beveel het,
moet aan hulle kinders
bekend gemaak word,
sodat die volgende geslag
dit sal weet,
die kinders wat nog gebore
moet word, sal opstaan
en dit aan hulle kinders vertel,
en sodat húlle weer hulle
vertroue in God kan stel,
God se dade nie vergeet nie
en kan hou by sy bevele.
Hulle mag nie soos hulle
voorouers wees nie –
'n hardkoppige en opstandige
geslag, wie se harte
onbestendig was en wie se gees
nie aan God getrou was nie.
Die kinders van Efraim,
gewapende boogskutters,
het teruggeval op die dag
van die geveg.
Hulle het nie God se verbond
nagekom nie;
en sy wet het hulle geweier om te volg.
Hulle het sy dade vergeet,
sy wonders wat Hy hulle
laat sien het.
Voor die oë van hulle voorouers
het Hy wonders gedoen
in Egipteland,
op die vlakte van Soan.
Hy het die see oopgekloof
en hulle laat deurtrek;
Hy het die water laat opdam soos 'n wal.
Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags,
en die hele nag met die lig van vuur.
Hy het rotse oopgekloof
in die woestyn,
en hulle baie laat drink,
asof daar 'n vloed was.
Hy het strome uit die rotswand
laat vloei,
en water laat afloop soos riviere.
Maar hulle het steeds
voortgegaan om teen Hom te sondig,
om in die dorre streek
teen die Allerhoogste
opstandig te wees.
Hulle het God doelbewus
uitgedaag deur kos te vra
wat hulle begeer.
Hulle het hulle teen God uitgespreek;
hulle het gesê:
“Kan God 'n tafel dek in die woestyn?
Kyk, Hy het 'n rots geslaan
en water het uitgestroom,
spruite het gevloei.
Sou Hy ook brood kon gee
of vleis voorberei vir sy volk?”
Daarom, toe die HERE dit hoor,
het Hy woedend geword,
en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob.
Ook het sy toorn opgevlam teen Israel,
omdat hulle nie in God geglo het nie,
en nie op sy verlossing vertrou het nie.
Hy het die wolke daarbo bevel gegee
en die deure van die hemel oopgemaak.
Hy het manna om te eet
op hulle laat reën,
koring van die hemel het Hy
aan hulle gegee,
die brood van engele –
mense het dit geëet.
Padkos het Hy vir hulle gestuur –
tot versadiging toe.
Hy het die oostewind
in die hemel laat losbars;
en deur sy krag die suidewind
laat waai.
Hy het vleis soos stof op hulle
laat neerreën,
vlieënde voëls soos die sand
van die oseane.
Hy het dit binne-in sy kamp laat val,
reg rondom sy verblyfplek.
Hulle het geëet
en was heeltemal versadig;
Hy het wat hulle begeer het,
vir hulle gebring.
Hulle het nog nie weggedraai
van wat hulle begeer het nie,
hulle kos was nog in hulle monde,
toe laai God se toorn al
teen hulle op.
Hy het onder hulle vettes
'n slagting aangerig
en die jong manne van Israel
op hulle knieë gedwing.
Ten spyte hiervan het hulle
steeds gesondig
en nie aan sy wonders geglo nie.
So het Hy hulle dae laat eindig
in nietigheid,
en hulle jare in verskrikking.
Wanneer Hy 'n slagting
onder hulle aangerig het,
het hulle Hom geraadpleeg;
hulle het teruggedraai en God gesoek.
Hulle het onthou dat God
hulle rots is,
dat God, die Allerhoogste,
hulle losser is.
Maar hulle het Hom probeer
oorreed met die mond
en het vir Hom bly lieg met die tong.
Hulle harte was nie standvastig
teenoor Hom nie;
hulle was nie getrou aan sy verbond nie.
Maar Hy is barmhartig;
Hy bedek hulle sondeskuld;
Hy delg hulle nie uit nie.
Hy hou dikwels sy toorn terug
en laat nie sy woede
ten volle ontwaak nie.
Hy dink daaraan dat hulle vlees is,
net maar 'n asemteug wat gaan
en nie weer terugkeer nie.