SPREUKE 15:1-17

SPREUKE 15:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer jy vir iemand mooi antwoord, dan sal hy ophou om kwaad te wees, maar wanneer jy dinge sê wat iemand seermaak, dan maak jy hom kwaad. Wanneer wyse mense praat, dan leer 'n mens, en dit is lekker. Maar wanneer dwase praat, dan sê hulle net dom dinge. Die Here sien oral, Hy sien wat slegte mense doen en Hy sien wat goeie mense doen. Wanneer iemand praat om dit beter te laat gaan, dan laat hy mense lewe, maar wanneer hy dinge sê wat vals is, dan maak hy mense moedeloos. Dit is 'n dwaas wat dink dat die dinge wat sy pa vir hom leer, nie belangrik is nie, maar iemand wat onthou wat sy pa vir hom sê, is verstandig. Iemand wat reg lewe, word baie ryk, maar as 'n mens verkeerd doen, dan sal die goed wat hy kry, dit sleg laat gaan met hom. Wanneer wyse mense praat, dan leer hulle vir baie mense om dinge te weet, maar dwase dink net oor dinge wat nie reg is nie. Die Here haat die offers wat mense bring wat verkeerd doen, maar Hy aanvaar die gebede van eerlike mense. Die Here haat dit wanneer mense verkeerd doen, maar Hy hou van mense wat altyd probeer om reg te doen. Die Here sal die mens straf wat ophou om reg te lewe. Die mens wat dit haat wanneer iemand vir hom wil leer, sal sterf. Die Here ken die doderyk en die onderwêreld, maar Hy ken die harte van mense nog beter. Iemand wat altyd wil spot, hou nie daarvan dat jy vir hom sê hoe hy moet lewe nie, hy gaan vra nie vir wyse mense wat hy moet doen nie. Wanneer iemand bly is, dan sal sy gesig gelukkig lyk, maar wanneer hy hartseer is, dan sien jy hy is moedeloos. 'n Verstandige mens probeer altyd meer weet, maar dwase is tevrede om dom te bly. Dit gaan altyd sleg met iemand wat homself nie kan help nie, maar vrolike mense geniet altyd die lewe. Dit is beter om min te hê en die Here te respekteer en te dien, beter as om baie goed te hê en ook probleme te hê. Dit is beter om net groente te eet en te weet dat mense lief is vir jou, beter as om die vleis van 'n vet bees te eet en te weet dat mense jou haat.

SPREUKE 15:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom. Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel. Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies. Sagtheid van tong is 'n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees. Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys. In die huis van die regverdige is 'n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring. Die lippe van die wyse strooi kennis uit, maar die hart van die dwase is nie reg nie. Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig. Die wandel van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief. 'n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe. Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders! Die spotter hou nie daarvan dat 'n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie. 'n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig. Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om. Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees. Liewer 'n bietjie in die vrees van die HERE, as 'n groot skat en onrus daarby. Liewer 'n porsie groente waar liefde by is, as 'n vetgevoerde bees en haat daarby.

SPREUKE 15:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam. Die tong van wyses maak kennis lofwaardig, maar die mond van dwase stort sotheid uit. Op elke plek is die oë van die HERE, hulle hou slegtes en goeies dop. Kalmte van die tong is 'n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees. 'n Sot versmaai die vermaning van sy vader, maar hy wat teregwysing ter harte neem, is slim. In die huis van 'n regverdige is daar baie voorraad, maar in die opbrengs van 'n goddelose skuil daar teenspoed. Die lippe van wyses strooi kennis uit, maar die hart van dwase is nie so nie. Die offer van goddeloses is afstootlik vir die HERE, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring. Afstootlik vir die HERE is die pad van 'n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief. 'n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf. Die •doderyk en die onderwêreld lê oop voor die HERE – hoeveel te meer die harte van mensekinders! 'n Spotter hou nie daarvan as iemand hom teregwys nie; na wyses sal hy nie gaan nie. 'n Vrolike hart laat die gesig goed lyk, maar by kommer in die hart is die gees neerslagtig. Die hart van 'n verstandige soek kennis, maar die monde van dwase word gevoed met sotheid. Al die lewensdae van 'n magtelose is sleg, maar vrolikheid van hart is 'n voortdurende fees. 'n Bietjie, saam met ontsag vir die HERE, is beter as 'n groot skat met paniek daarby. 'n Porsie groente met liefde daarby is beter as 'n vetgevoerde bees met haat daarby.

SPREUKE 15:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar krenkende woorde laat toorn wakker word. Die tong van die wyse gebruik kennis reg, maar die mond van die dwase giet dwaasheid uit. Die oë van die HERE is op elke plek en aanskou die slegte en die goeie. 'n Gesonde tong is 'n boom van die lewe, maar verdraaidheid daarin is 'n breuk in die gees. 'n Dwaas verag die tug van sy vader, maar hy wat teregwysing ag, is verstandig. In die huis van die regverdige is baie skatte, maar in die inkomste van die goddelose is moeilikheid. Die lippe van die wyse versprei kennis, maar die hart van die dwase doen dit nie. Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is vir hom 'n behae. Die weg van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het hom lief wat geregtigheid najaag. Die teregwysing is swaar vir hom wat die weg verlaat, en hy wat teregwysing haat, sal sterwe. Die hel en vernietiging is voor die aangesig van die HERE; hoeveel te meer dan die harte van die mensekinders? 'n Bespotter het niemand lief wat hom teregwys nie, en hy sal nie na die wyse gaan nie. 'n Vrolike hart maak 'n vrolike aangesig, maar deur droefheid van die hart word die gees gebreek. Die hart van hom wat verstand het, soek kennis, maar die mond van die dwase voed met dwaasheid. Al die dae van die ellendige is sleg, maar hy wat vrolik van hart is, hou 'n voortdurende fees. Beter is min met die vrees van die HERE as groot skat en moeite daarmee. Beter 'n ete van kruie waar liefde is, as 'n stallige os en haat daarmee.

SPREUKE 15:1-17 Die Boodskap (DB)

’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend. Gelowiges se woorde getuig van kennis. Dommes weet niks van die lewe nie. Hulle praat net onsin. Die Here weet wat mense doen. Hy sien al die goeie dinge en al die ongeregtighede raak. Iemand wat kalm oor probleme praat se woorde maak heel. Vlymskerp woorde kan mense breek. ’n Dwase mens verwerp sy ouers se opvoeding. ’n Slimme maak erns met dit wat hulle hom geleer het. ’n Gelowige se rykdom is sy gesin. ’n Slegte mens se skatte bring hom geen geluk nie. Na ’n wyse man kan jy altyd luister. Sy woorde is vol lewenskennis. Dommes dink net aan slegte dinge. ’n Slegte mens se godsdiens is oppervlakkig. Die Here haat sy skynheiligheid. ’n Gelowige se gebed is vir die Here wonderlik. Die Here haat die ongelowiges se slegte dade. Hulle wat opreg leef, het Hy sommer baie lief. Wie die Here verlaat, voel sy straf. Wie teregwysing haat, is al klaar dood. Die Here ken die lewe na die dood baie goed. Hy weet wat in die doderyk gebeur. So ken Hy ook alles wat ons beplan. Niks is vir Hom weggesteek nie. ’n Ongelowige hou niks daarvan dat ander hom op sy foute wys nie. Hy sal ook nooit die geselskap van gelowiges opsoek nie. Blydskap maak ons vrolik. Hartseer kan ons moed knak. ’n Gelowige smag heeltyd na nog meer kennis en insig. ’n Ongelowige is heeltemal tevrede met sy dwase woorde en gedagtes. As iemand altyd swartgallig is, is die lewe hel. Vir ’n blymoedige gelowige is die lewe een groot fees. Dit is baie beter om die Here lief te hê en eenvoudig te lewe as om baie geld te besit, maar tog bekommerd oor jou geld en diep ongelukkig te wees. Liewer ’n eenvoudige ete saam met mense wat mekaar liefhet as baie lekker kos waar mense mekaar haat.

SPREUKE 15:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ’n dwars antwoord laat woede opspring. Die woorde van wyse mense maak kennis aanloklik. Dwase mense borrel oor van dwase dinge. Die HERE sien oral wat gebeur. Sowel slegte as goeie mense hou Hy dop. Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde vernietig mense. ’n Dwaas praat smalend oor wat sy pa hom leer, iemand wat hom laat reghelp, is verstandig. In die huis van regverdiges is daar skatte. Wat die goddelose inbring, bring vir hom moeilikheid. Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê. Dwase mense kan dit nie doen nie. Die HERE verafsku die offers van goddelose mense. Hy is bly oor die gebede van opregtes. Die HERE verafsku die manier waarop goddelose mense leef. Hy het die mense lief wat volgens sy wil lewe. Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word. Hy wat berisping haat, sal sterf. Die HERE weet wat gebeur in die doderyk en in die onderaardse dieptes. Hoeveel te meer weet Hy wat aangaan in mense se harte. ’n Spotter hou nie van die persoon wat hom teregwys nie. Hy vra nie raad by ’n wyse nie. Blydskap laat ’n mens se gesig straal. Hartseer maak ’n mens terneergedruk. ’n Verstandige mens soek ernstig na kennis. ’n Dwase mens teer op dwaasheid. Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees. Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die HERE, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam. Liewer net ’n skeppie groente saam met iemand vir wie jy lief is, as ’n lekker stuk beesvleis en haat daarmee saam.

SPREUKE 15:1-17

SPREUKE 15:1-17 AFR83SPREUKE 15:1-17 AFR83SPREUKE 15:1-17 AFR83SPREUKE 15:1-17 AFR83