Spreuke 15:1-17

Spreuke 15:1-17 AFR20

'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam. Die tong van wyses maak kennis lofwaardig, maar die mond van dwase stort sotheid uit. Op elke plek is die oë van die HERE, hulle hou slegtes en goeies dop. Kalmte van die tong is 'n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees. 'n Sot versmaai die vermaning van sy vader, maar hy wat teregwysing ter harte neem, is slim. In die huis van 'n regverdige is daar baie voorraad, maar in die opbrengs van 'n goddelose skuil daar teenspoed. Die lippe van wyses strooi kennis uit, maar die hart van dwase is nie so nie. Die offer van goddeloses is afstootlik vir die HERE, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring. Afstootlik vir die HERE is die pad van 'n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief. 'n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf. Die •doderyk en die onderwêreld lê oop voor die HERE – hoeveel te meer die harte van mensekinders! 'n Spotter hou nie daarvan as iemand hom teregwys nie; na wyses sal hy nie gaan nie. 'n Vrolike hart laat die gesig goed lyk, maar by kommer in die hart is die gees neerslagtig. Die hart van 'n verstandige soek kennis, maar die monde van dwase word gevoed met sotheid. Al die lewensdae van 'n magtelose is sleg, maar vrolikheid van hart is 'n voortdurende fees. 'n Bietjie, saam met ontsag vir die HERE, is beter as 'n groot skat met paniek daarby. 'n Porsie groente met liefde daarby is beter as 'n vetgevoerde bees met haat daarby.