Spreuke 15:1-17

Spreuke 15:1-17 CAB23

'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar krenkende woorde laat toorn wakker word. Die tong van die wyse gebruik kennis reg, maar die mond van die dwase giet dwaasheid uit. Die oë van die HERE is op elke plek en aanskou die slegte en die goeie. 'n Gesonde tong is 'n boom van die lewe, maar verdraaidheid daarin is 'n breuk in die gees. 'n Dwaas verag die tug van sy vader, maar hy wat teregwysing ag, is verstandig. In die huis van die regverdige is baie skatte, maar in die inkomste van die goddelose is moeilikheid. Die lippe van die wyse versprei kennis, maar die hart van die dwase doen dit nie. Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is vir hom 'n behae. Die weg van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het hom lief wat geregtigheid najaag. Die teregwysing is swaar vir hom wat die weg verlaat, en hy wat teregwysing haat, sal sterwe. Die hel en vernietiging is voor die aangesig van die HERE; hoeveel te meer dan die harte van die mensekinders? 'n Bespotter het niemand lief wat hom teregwys nie, en hy sal nie na die wyse gaan nie. 'n Vrolike hart maak 'n vrolike aangesig, maar deur droefheid van die hart word die gees gebreek. Die hart van hom wat verstand het, soek kennis, maar die mond van die dwase voed met dwaasheid. Al die dae van die ellendige is sleg, maar hy wat vrolik van hart is, hou 'n voortdurende fees. Beter is min met die vrees van die HERE as groot skat en moeite daarmee. Beter 'n ete van kruie waar liefde is, as 'n stallige os en haat daarmee.