Spreuke 15:1-17

Spreuke 15:1-17 ABA

Wanneer jy vir iemand mooi antwoord, dan sal hy ophou om kwaad te wees, maar wanneer jy dinge sê wat iemand seermaak, dan maak jy hom kwaad. Wanneer wyse mense praat, dan leer 'n mens, en dit is lekker. Maar wanneer dwase praat, dan sê hulle net dom dinge. Die Here sien oral, Hy sien wat slegte mense doen en Hy sien wat goeie mense doen. Wanneer iemand praat om dit beter te laat gaan, dan laat hy mense lewe, maar wanneer hy dinge sê wat vals is, dan maak hy mense moedeloos. Dit is 'n dwaas wat dink dat die dinge wat sy pa vir hom leer, nie belangrik is nie, maar iemand wat onthou wat sy pa vir hom sê, is verstandig. Iemand wat reg lewe, word baie ryk, maar as 'n mens verkeerd doen, dan sal die goed wat hy kry, dit sleg laat gaan met hom. Wanneer wyse mense praat, dan leer hulle vir baie mense om dinge te weet, maar dwase dink net oor dinge wat nie reg is nie. Die Here haat die offers wat mense bring wat verkeerd doen, maar Hy aanvaar die gebede van eerlike mense. Die Here haat dit wanneer mense verkeerd doen, maar Hy hou van mense wat altyd probeer om reg te doen. Die Here sal die mens straf wat ophou om reg te lewe. Die mens wat dit haat wanneer iemand vir hom wil leer, sal sterf. Die Here ken die doderyk en die onderwêreld, maar Hy ken die harte van mense nog beter. Iemand wat altyd wil spot, hou nie daarvan dat jy vir hom sê hoe hy moet lewe nie, hy gaan vra nie vir wyse mense wat hy moet doen nie. Wanneer iemand bly is, dan sal sy gesig gelukkig lyk, maar wanneer hy hartseer is, dan sien jy hy is moedeloos. 'n Verstandige mens probeer altyd meer weet, maar dwase is tevrede om dom te bly. Dit gaan altyd sleg met iemand wat homself nie kan help nie, maar vrolike mense geniet altyd die lewe. Dit is beter om min te hê en die Here te respekteer en te dien, beter as om baie goed te hê en ook probleme te hê. Dit is beter om net groente te eet en te weet dat mense lief is vir jou, beter as om die vleis van 'n vet bees te eet en te weet dat mense jou haat.