2 KRONIEKE 17:2-19
2 KRONIEKE 17:2-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het 'n garnisoen in elkeen van die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land van Juda opgestel, en ook in die dorpe van Efraim wat Asa, sy vader, verower het. Die HERE was met Josafat, omdat hy die vroeëre paaie van sy voorvader Dawid gevolg het. Hy het nie die Baäls geraadpleeg nie, maar die God van sy vader. Sy gebooie het hy nagevolg, en nie die gebruike van Israel nie. Daarom het die HERE die koninkryk in sy hand bestendig. Die hele Juda het vir Josafat geskenke gebring, en hy het rykdom en aansien in oorvloed verwerf. Sy hart was opgewonde oor die weë van die HERE. Hy het toe ook die offerhoogtes en die asjeras uit Juda verwyder. In die derde jaar van sy regering het hy sy •hoë amptenare Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga uitgestuur om in die dorpe van Juda onderrig te gee. Hulle is vergesel deur Leviete. Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonija, Tobia en Tob-Adonija was die Leviete, en saam met hulle was ook die priesters Elisama en Joram. Hulle het in Juda onderrig gegee. By hulle was die •boekrol met die Wet van die HERE. Hulle het rondgegaan in al die dorpe van Juda en die mense geleer. Vrees vir die HERE het al die koninkryke van die lande wat rondom Juda lê, oorval, sodat hulle nie teen Josafat oorlog gemaak het nie. Van die Filistyne het vir Josafat belasting, 'n vrag silwer, gebring. Selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend sewehonderd skaapramme en seweduisend sewehonderd bokramme. Josafat het met verloop van tyd buitengewoon magtig geword. Hy het in Juda vestingstede en voorraadstede gebou. Hy het groot voorrade in die dorpe van Juda gehad, en krygsmanne, dapper krygers, in Jerusalem. En dit was hulle monstering volgens hulle families: Vir Juda was daar •aanvoerders oor duisende: die bevelvoerder Adna, en saam met hom 300 000 dapper krygers; langs hom was die aanvoerder Joganan, en saam met hom 280 000; langs hom was Amasja, seun van Sigri, wat as vrywilliger vir die HERE aangemeld het, en saam met hom 200 000 dapper krygers. Uit Benjamin was daar: die dapper kryger Eljada, en saam met hom 200 000, gewapen met boë en kleinskilde; langs hom was Josabad, en saam met hom 180 000, gewapen vir oorlog. Hierdie manne was in diens van die koning, naas dié wat die koning in die versterkte stede, in die hele Juda, geplaas het.
2 KRONIEKE 17:2-19 Bybel vir almal (ABA)
Hy het gesê daar moet soldate bly in elke stad in Juda wat sterk mure het, en hy het gesê daar moet oral in die land manne bly om wag te staan, ook in die stede wat sy pa Asa in die land Efraim gevat het. Die Here was by Josafat en Hy het hom geseën, want Josafat het gelewe soos sy voorvader Dawid gelewe het toe hy koning geword het. Josafat het nie die Baäls gedien nie. Nee, hy het die God van sy voorvaders gedien en hy het gelewe soos God sê. Josafat het nie gedoen wat die konings van Israel gedoen het nie. Die Here het vir Josafat gehelp om 'n sterk koning te wees. Al die mense van Juda het vir hom presente gebring, en hy het baie ryk geword. Almal het hom gerespekteer. Hy was trots dat hy kon aanhou lewe soos die Here wil hê. Hy het die offer-plekke en die gewyde pale afgebreek en weggevat uit die land Juda. In die derde jaar nadat Josafat koning geword het, het hy amptenare gestuur om vir die mense in die stede van Juda te leer. Die amptenare was Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. Saam met hulle was die Leviete Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Die priesters Elisama en Joram was ook saam met hulle. Hulle het vir die mense in Juda gaan leer. Hulle het die Wetboek van die Here by hulle gehad en hulle het deur al die stede van Juda gegaan en vir die mense geleer. Die Here het al die volke in die lande rondom Juda bang laat word vir koning Josafat, en hulle het nie oorlog gemaak teen Josafat nie. Party Filistyne het vir Josafat presente gebring en hulle het belasting betaal met silwer. Die Arabiere het ook vir Josafat skape en bokke gebring, 7 700 skaap-ramme en 7 700 bok-ramme. Die leër van Josafat het sterker en sterker geword. Josafat het stede gebou wat sterk mure het en ook stede waar hy sy goed kon bêre. Hy het baie werk gedoen in die stede van Juda, en in Jerusalem het hy soldate gehou wat goed kon veg. Hy het gesê hulle moet sy soldate tel en die soldate wat familie van mekaar was, moes saam veg. Die hoofde van die offisiere van Juda was: die leier Adna met 300 000 manne wat goed kon veg, en langs hom was die leier Joganan met 280 000 manne. Langs Joganan was Amasja seun van Sikri, wat graag vir die Here wou werk, en saam met hom was daar 200 000 manne wat goed kon veg. Van die Benjamin-stam was daar Eljada, 'n man wat goed kon veg, en saam met hom was daar 200 000 manne wat pyl en boë en spiese gehad het, en langs hom was Josabad met 180 000 manne wat gereed was om oorlog te maak. Hulle almal het vir die koning gewerk, en dan was daar ook nog die manne wat die koning oral in die stede van Juda laat bly het, in stede wat sterk mure het.
2 KRONIEKE 17:2-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hy het 'n leërmag in al die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land Juda opgestel en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het. En die HERE was met Jósafat, want hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawid gewandel en die Baäls nie gesoek nie, maar die God van sy vader gesoek en in sy gebooie gewandel en nie gedoen soos Israel nie. Daarom het die HERE die koningskap in sy hand bevestig; en die hele Juda het aan Jósafat geskenke gegee, sodat hy rykdom en eer in oorvloed gehad het. En sy hart het moedig geword in die weë van die HERE, en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder. En in die derde jaar van sy regering het hy sy owerstes Ben-Hail en Obádja en Sagaría en Netáneël en Migája gestuur om in die stede van Juda onderrig te gee; en saam met hulle die Leviete Semája en Netánja en Sebádja en Ásahel en Semíramot en Jónatan en Adónia en Tobía en Tob-Adónia, die Leviete; en saam met hulle die priesters Elisáma en Joram. En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die HERE by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee. En 'n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie. En van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en 'n vrag silwer gebring; selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend-sewehonderd ramme en seweduisend-sewehonderd bokke. So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot, en in Juda forte en voorraadstede gebou. En hy het groot voorrade in die stede van Juda gehad, en krygsmanne, dapper helde, in Jerusalem. En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom driehonderdduisend dapper helde; en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom tweehonderd-en-tagtigduisend; en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die HERE, en saam met hom tweehonderdduisend dapper helde; en uit Benjamin was Éljada, 'n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend, gewapen met boog en skild; en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd-en-tagtigduisend, vir kommando gewapen. Hulle was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het.
2 KRONIEKE 17:2-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
deur soldate te stasioneer in al die vestingstede van Juda en deur wagposte te plaas in Juda sowel as in die stede wat Asa, sy pa, in Efraim verower het. Die Here was by Josafat, want hy het sy voorvader Dawid se vroeëre lewe nagevolg. Hy het nie die Baäls gedien nie, maar die God van sy vader. Hy het die gebooie van God gehoorsaam en nie gemaak soos Israel nie. Daarom het die Here Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir Josafat geskenke gebring, en hy het ryk geword en groot aansien geniet. Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil en het die vernietiging van die hoogtes en gewyde pale in Juda voortgesit. In die derde jaar van sy regering het hy van sy beste amptenare uitgestuur om oral in die stede van Juda onderrig te gee: Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. Daar was Leviete saam met hulle: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Hulle was die Leviete; en verder was die priesters Elisama en Joram by hulle. Hulle het onderrig gegee in Juda. Hulle het die wetboek van die Here saamgeneem, die rondte gedoen in al die stede van Juda, en die volk in die wet onderrig. Al die lande rondom Juda was van skrik bevange vir die Here; hulle het Josafat nie aangeval nie. Selfs van die Filistyne af is daar vir Josafat geskenke en 'n groot hoeveelheid silwer gebring, en die Arabiere het vir hom kleinvee gebring, sewe duisend sewe honderd skaapramme en sewe duisend sewe honderd bokramme. So het Josafat steeds magtiger geword. Hy het forte en voorraadstede in Juda gebou en in elke stad van Juda groot bedrywigheid aan die gang gesit. In Jerusalem het hy sy beste soldate gehad. Hulle is familiegewys georganiseer. Uit Juda was daar die volgende bevelvoerders oor duisend: die bevelvoerder Adna met drie honderd duisend weerbare man by hom, naas hom die bevelvoerder Joganan met twee honderd en tagtig duisend, naas hom Amasja seun van Sikri, wat hom met 'n vrywillige eed aan die Here gewy het, met twee honderd duisend weerbare man. Uit Benjamin was daar die krygsman Eljada met twee honderd duisend man by hom, gewapen met pyl en boog en skild, en naas hom Josabad met honderd en tagtig duisend by hom, ten volle toegerus vir oorlog. Dit is die manne wat tot die koning se beskikking was, afgesien van dié wat hy in die vestingstede oral in Juda geplaas het.
2 KRONIEKE 17:2-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het leër opgestel in al die omheinde stede van Juda en wagposte opgestel in die land van Juda en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het. En die HERE was met Jósafat, omdat hy in die eerste weë van sy vader Dawid gewandel het en die Baäls nie gesoek het nie; maar die HERE, die God van sy vader, gesoek en in sy gebooie gewandel en nie volgens die handelinge van Israel nie. Daarom het die HERE die koninkryk in sy hand bevestig; en die hele Juda het vir Jósafat geskenke gebring; en hy het rykdom en eer in oorvloed gehad. En sy hart was verheug in die weë van die HERE, en Hy het ook die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda weggeneem. Ook in die derde jaar van sy regering het hy na sy vorste gestuur, na Benhail en Obádja en Sagaria en Netáneël en Migaja, om in die stede van Juda te onderrig. En hy het Leviete saam met hulle gestuur, Semaja en Netánja en Sebadja en Asahel en Semíramot en Jonatan en Adónia en Tobia en Tobadónia, Leviete; en saam met hulle Elisama en Joram, priesters. En hulle het in Juda geleer en die wetboek van die HERE by hulle gehad en deur al die stede van Juda rondgetrek en die volk geleer. En die vrees van die HERE het geval op al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle teen Jósafat geen oorlog gevoer het nie. Ook van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en belastingsilwer gebring; en die Arabiere het vir hom kleinvee gebring, sewe duisend sewe honderd ramme en sewe duisend sewe honderd bokke. En Jósafat het uitermate groot geword; en hy het in Juda kastele en skatstede gebou. En hy het baie sake gehad in die stede van Juda, en die krygsmanne, dapper helde, was in Jerusalem. En dit is hulle getalle volgens die huis van hulle vaders: van Juda, die owerstes oor duisend; Adna, die owerste, en saam met hom drie honderd duisend dapper helde. En langs hom was Johanan, die owerste, en saam met hom twee honderd en tagtig duisend. En naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig aan die HERE geoffer het; en saam met hom twee honderd duisend dapper helde en van Benjamin; Eljada, 'n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend gewapende manne met boog en skild. En naas hom was Jósabad, en saam met hom honderd en tagtig duisend gereed vir die oorlog. Hulle het op die koning gewag, behalwe dié wat die koning in die omheinde stede in die hele Juda geplaas het.
2 KRONIEKE 17:2-19 Die Boodskap (DB)
Hy het soldate in die sterk stede in Juda geplaas en wagposte oral in Juda opgestel, asook in die dorpe van Israel wat sy pa gevat het. Die Here het Josafat gehelp, want hy het die voorbeeld van sy pa se vroeë jare gevolg. Hy het hom nie met die Baäls, die gode van die Kanaäniete, opgehou nie. Hy het die Here, sy pa se God, gedien en na al sy opdragte geluister. Dit was anders as wat die konings van Israel gedoen het. Daarom het die Here Josafat ’n sterk koning gemaak. Die mense van Juda het vir hom geskenke gebring. So het hy ryk en belangrik geword. Hy was ywerig om die Here te dien; daarom het hy die plekke vernietig waar die afgode vereer is en die Asjerapale stukkend gekap. In die derde jaar dat hy regeer het, het Josafat van sy belangrikste amptenare gestuur om die mense in al die stede van Juda te gaan leer. Die amptenare was Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. Hy het ook ’n klompie Leviete saamgestuur. Hulle was Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Hy het ook twee priesters, Elisama en Joram, saamgestuur. Hulle het Die Wetboek van die Here saamgeneem en dwarsdeur Juda na al die stede toe gegaan en die mense van die Here se wet geleer. Al die volke rondom Juda het verskriklik bang geword vir die Here. Niemand het daaraan gedink om teen Juda oorlog te maak nie. Party Filistyne het vir Josafat geskenke en ’n klomp silwer gebring. Daar was selfs Arabiere wat vir hom ’n groot klomp kleinvee gebring het: 7 700 skaapramme en 7 700 bokramme. Josafat het al hoe sterker geword. Hy het forte en voorraadstede in Juda gebou, waar hy groot voorrade gestoor het. Josafat het ’n leër van uitgesoekte soldate in Jerusalem gehad. Hulle is volgens hulle families georganiseer. Uit Juda was daar 300 000 soldate. Hulle was in eenhede van 1 000 elk, almal onder bevel van Adna. Onder hom was Joganan, met 280 000 soldate onder sy bevel. Die volgende offisier was Amasja, Sikri se seun, wat vrywillig vir die Here se diens aangemeld het. Hy het 200 000 soldate onder sy bevel gehad. Uit Benjamin was daar 200 000 soldate wat almal met pyle en boë en met skilde uitgerus was. Hulle bevelvoerder was die legendariese Eliada. Onder hom was Josabad, met 180 000 soldate onder sy bevel. Dié soldate was almal in Jerusalem gestasioneer. Die koning kon hulle enige tyd gebruik. Dit is behalwe die soldate wat hy in die versterkte stede van Juda ontplooi het.
2 KRONIEKE 17:2-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In al die versterkte stede van Juda het hy soldate geplaas. Hy het ook wagposte beman in Juda en in die dorpe van Efraim wat sy pa, Asa, verower het. Die HERE was met Josafat omdat hy die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg het en nie die beelde van Baäl aanbid het nie. Hy het sy pa se God gedien en die HERE se gebooie gehoorsaam in teenstelling met die praktyke in die koninkryk van Israel. Daarom het die HERE Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir hom geskenke gebring sodat hy baie ryk geword het en groot aansien geniet het. Hy was toegewyd aan die wil van die HERE. Hy het ook die heidense hoogtes afgebreek en die Asjerapale vernietig. In die derde jaar van sy bewind het Josafat sy amptenare gestuur om in al die dorpe van Juda onderrig te gee. Hierdie amptenare het die volgende persone ingesluit: Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. Hy het ook die volgende Leviete uitgestuur: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Die priesters Elisama en Joram was ook saam met hulle. Hulle het afskrifte van die boek van die gebooie van die HERE saamgeneem. Hulle het rondgegaan by al die dorpe van Juda en die volk onderrig. Vrees vir die HERE het oor al die omliggende koninkryke gekom sodat nie een van hulle oorlog teen Josafat verklaar het nie. Sommige van die Filistyne het vir hom geskenke van silwer as belasting gebring. Die Arabiere het 7 700 ramme en 7 700 bokramme gebring. Josafat het al magtiger geword en het vestings en voorraadstede oral in Juda gebou en in elke dorp van Juda baie voorrade gehad, en het ’n leër van geharde soldate in Jerusalem geplaas. Sy leër is volgens families saamgestel. Uit Juda was daar 300 000 manskappe, georganiseer in eenhede, en onder die bevel van Adna. Joganan het 280 000 manskappe aangevoer. Dan was daar Amasja seun van Sikri wat vrywillig vir die HERE diens gedoen het en 200 000 man onder sy bevel gehad het. Uit Benjamin was daar 200 000 manskappe, toegerus met pyl en boog en skilde. Hulle was onder bevel van Eljada, ’n veteraan. Die volgende bevelvoerder was Josabad met 180 000 gewapende manne onder hom. Dit was die soldate wat in Jerusalem gestasioneer was om tot diens van die koning te wees, benewens dié wat Josafat in die versterkte stede in die hele Juda geplaas het.