2 Kronieke 17:2-19

2 Kronieke 17:2-19 AFR20

Hy het 'n garnisoen in elkeen van die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land van Juda opgestel, en ook in die dorpe van Efraim wat Asa, sy vader, verower het. Die HERE was met Josafat, omdat hy die vroeëre paaie van sy voorvader Dawid gevolg het. Hy het nie die Baäls geraadpleeg nie, maar die God van sy vader. Sy gebooie het hy nagevolg, en nie die gebruike van Israel nie. Daarom het die HERE die koninkryk in sy hand bestendig. Die hele Juda het vir Josafat geskenke gebring, en hy het rykdom en aansien in oorvloed verwerf. Sy hart was opgewonde oor die weë van die HERE. Hy het toe ook die offerhoogtes en die asjeras uit Juda verwyder. In die derde jaar van sy regering het hy sy •hoë amptenare Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga uitgestuur om in die dorpe van Juda onderrig te gee. Hulle is vergesel deur Leviete. Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonija, Tobia en Tob-Adonija was die Leviete, en saam met hulle was ook die priesters Elisama en Joram. Hulle het in Juda onderrig gegee. By hulle was die •boekrol met die Wet van die HERE. Hulle het rondgegaan in al die dorpe van Juda en die mense geleer. Vrees vir die HERE het al die koninkryke van die lande wat rondom Juda lê, oorval, sodat hulle nie teen Josafat oorlog gemaak het nie. Van die Filistyne het vir Josafat belasting, 'n vrag silwer, gebring. Selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend sewehonderd skaapramme en seweduisend sewehonderd bokramme. Josafat het met verloop van tyd buitengewoon magtig geword. Hy het in Juda vestingstede en voorraadstede gebou. Hy het groot voorrade in die dorpe van Juda gehad, en krygsmanne, dapper krygers, in Jerusalem. En dit was hulle monstering volgens hulle families: Vir Juda was daar •aanvoerders oor duisende: die bevelvoerder Adna, en saam met hom 300 000 dapper krygers; langs hom was die aanvoerder Joganan, en saam met hom 280 000; langs hom was Amasja, seun van Sigri, wat as vrywilliger vir die HERE aangemeld het, en saam met hom 200 000 dapper krygers. Uit Benjamin was daar: die dapper kryger Eljada, en saam met hom 200 000, gewapen met boë en kleinskilde; langs hom was Josabad, en saam met hom 180 000, gewapen vir oorlog. Hierdie manne was in diens van die koning, naas dié wat die koning in die versterkte stede, in die hele Juda, geplaas het.