2 Kronieke 2 Kronieke 17

2 Kronieke 17
1En sy seun Jósafat het in sy plek geregeer en hom versterk teen Israel.
2En hy het leër opgestel in al die omheinde stede van Juda en wagposte opgestel in die land van Juda en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het.
3En die HERE was met Jósafat, omdat hy in die eerste weë van sy vader Dawid gewandel het en die Baäls nie gesoek het nie;
4maar die HERE, die God van sy vader, gesoek en in sy gebooie gewandel en nie volgens die handelinge van Israel nie.
5Daarom het die HERE die koninkryk in sy hand bevestig; en die hele Juda het vir Jósafat geskenke gebring; en hy het rykdom en eer in oorvloed gehad.
6En sy hart was verheug in die weë van die HERE, en Hy het ook die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda weggeneem.
7Ook in die derde jaar van sy regering het hy na sy vorste gestuur, na Benhail en Obádja en Sagaria en Netáneël en Migaja, om in die stede van Juda te onderrig.
8En hy het Leviete saam met hulle gestuur, Semaja en Netánja en Sebadja en Asahel en Semíramot en Jonatan en Adónia en Tobia en Tobadónia, Leviete; en saam met hulle Elisama en Joram, priesters.
9En hulle het in Juda geleer en die wetboek van die HERE by hulle gehad en deur al die stede van Juda rondgetrek en die volk geleer.
10En die vrees van die HERE het geval op al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle teen Jósafat geen oorlog gevoer het nie.
11Ook van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en belastingsilwer gebring; en die Arabiere het vir hom kleinvee gebring, sewe duisend sewe honderd ramme en sewe duisend sewe honderd bokke.
12En Jósafat het uitermate groot geword; en hy het in Juda kastele en skatstede gebou.
13En hy het baie sake gehad in die stede van Juda, en die krygsmanne, dapper helde, was in Jerusalem.
14En dit is hulle getalle volgens die huis van hulle vaders: van Juda, die owerstes oor duisend; Adna, die owerste, en saam met hom drie honderd duisend dapper helde.
15En langs hom was Johanan, die owerste, en saam met hom twee honderd en tagtig duisend.
16En naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig aan die HERE geoffer het; en saam met hom twee honderd duisend dapper helde
17en van Benjamin; Eljada, 'n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend gewapende manne met boog en skild.
18En naas hom was Jósabad, en saam met hom honderd en tagtig duisend gereed vir die oorlog.
19Hulle het op die koning gewag, behalwe dié wat die koning in die omheinde stede in die hele Juda geplaas het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid