2 Kronieke 17

17
1Asa se seun Josafat het hom opgevolg.
Josafat se godsdiens
Josafat het sy leër sterker gemaak om teen Israel te kan veg. 2Hy het soldate in die sterk stede in Juda geplaas en wagposte oral in Juda opgestel, asook in die dorpe van Israel wat sy pa gevat het.
3Die Here het Josafat gehelp, want hy het die voorbeeld van sy pa se vroeë jare gevolg. Hy het hom nie met die Baäls, die gode van die Kanaäniete, opgehou nie. 4Hy het die Here, sy pa se God, gedien en na al sy opdragte geluister. Dit was anders as wat die konings van Israel gedoen het. 5Daarom het die Here Josafat ’n sterk koning gemaak. Die mense van Juda het vir hom geskenke gebring. So het hy ryk en belangrik geword. 6Hy was ywerig om die Here te dien; daarom het hy die plekke vernietig waar die afgode vereer is en die Asjerapale stukkend gekap.
7In die derde jaar dat hy regeer het, het Josafat van sy belangrikste amptenare gestuur om die mense in al die stede van Juda te gaan leer. Die amptenare was Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. 8Hy het ook ’n klompie Leviete saamgestuur. Hulle was Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Hy het ook twee priesters, Elisama en Joram, saamgestuur. 9Hulle het Die Wetboek van die Here saamgeneem en dwarsdeur Juda na al die stede toe gegaan en die mense van die Here se wet geleer.
10Al die volke rondom Juda het verskriklik bang geword vir die Here. Niemand het daaraan gedink om teen Juda oorlog te maak nie. 11Party Filistyne het vir Josafat geskenke en ’n klomp silwer gebring. Daar was selfs Arabiere wat vir hom ’n groot klomp kleinvee gebring het: 7 700 skaapramme en 7 700 bokramme.
12Josafat het al hoe sterker geword. Hy het forte en voorraadstede in Juda gebou, 13waar hy groot voorrade gestoor het.
Josafat se leër
Josafat het ’n leër van uitgesoekte soldate in Jerusalem gehad. 14Hulle is volgens hulle families georganiseer.
Uit Juda was daar 300 000 soldate.
Hulle was in eenhede van 1 000 elk, almal onder bevel van Adna.
15Onder hom was Joganan, met 280 000 soldate onder sy bevel.
16Die volgende offisier was Amasja, Sikri se seun, wat vrywillig vir die Here se diens aangemeld het. Hy het 200 000 soldate onder sy bevel gehad.
17Uit Benjamin was daar 200 000 soldate wat almal met pyle en boë en met skilde uitgerus was. Hulle bevelvoerder was die legendariese Eliada.
18Onder hom was Josabad, met 180 000 soldate onder sy bevel.
19Dié soldate was almal in Jerusalem gestasioneer. Die koning kon hulle enige tyd gebruik. Dit is behalwe die soldate wat hy in die versterkte stede van Juda ontplooi het.

Tans Gekies:

2 Kronieke 17: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid