PSALMS 41:1-13

PSALMS 41:1-13 AFR83

Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke. Die Here sal hom red op die dag van nood, die Here sal hom beskerm en in die lewe hou; die hele land sal praat oor hoe goed dit met hom gaan. U sal hom nie uitlewer aan die wraaksug van sy vyande nie. Die Here sal hom bystaan in sy siekte. As hy siek is, sal U hom genees. Ek het gesê: “Wees my genadig, Here! Maak my tog gesond; ek het teen U gesondig.” My vyande wens my net die ergste toe: “Wanneer gaan hy dood en verdwyn sy naam?” As iemand na my kom kyk, dink hy dis klaar met my. Hy kom kyk hoe sleg dit gaan en gaan vertel dit buite rond. Almal wat my haat, staan en fluister oor my, hulle wens my net die ergste toe: dis 'n dodelike siekte wat hom getref het, waar hy nou daar lê, sal hy nie weer opstaan nie! Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek. Wees U my genadig, Here, en laat my hier opstaan, dat ek aan hulle kan doen wat hulle aan my gedoen het. Dit weet ek: U het my lief, my vyand sal nie oor my triomfeer nie. Ek is onskuldig, U hou my vas en laat my altyd by U bly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid