PSALMS 41:1-13

PSALMS 41:1-13 NLV

Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die HERE hom red. Die HERE sal hom beskerm en hom die lewe laat behou. Hy gee aan hom voorspoed in die land en lewer hom nie oor in die mag van sy vyande nie. Die HERE sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed. Ek het gesê: “HERE, wees my genadig. Maak my gesond, want ek het teen U gesondig.” My vyande praat kwaad van my. Hulle sê: “Wanneer sal hy sterf en vergete wees?” As hulle my besoek, is hulle skynheilig: In hulle harte versamel hulle slegte gedagtes; dan gaan hulle uit en vertel dit. Almal wat my haat, fluister saam oor my en beplan net die ergste vir my: “’n Dodelike siekte het hom getref. Waar hy nou lê, sal hy nooit opstaan nie!” My beste vriend wat ek vertrou het, wat saam met my geëet het, selfs hy het sy rug op my gedraai. HERE, wees my genadig. Maak my weer gesond sodat ek hulle kan vergeld! Ek weet dat U my liefhet, want my vyand seëvier nie oor my nie. U hou my staande omdat ek onskuldig is. U laat my altyd naby U bly.