PSALMS 144:1-15

PSALMS 144:1-15 AFR83

Van Dawid. Geloof sy die Here, Hy is my rots. Hy leer my hande om oorlog te maak, my vingers om te veg. U is my krag en my skuilplek, my veilige vesting en my redder, my beskermer by wie ek skuil, wat my volk aan my onderdanig maak. Here, wat is 'n mens dat U hom sou wil ken, 'n mensekind dat U aan hom sou dink? 'n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos 'n skaduwee verby. Buig u hemele, Here, en daal neer, raak die berge aan dat hulle rook! Laat die weerligstrale blits en jaag die vyande uitmekaar, stuur u pyle en jaag hulle op loop! Strek u hand van bo af uit, bevry my, red my uit die geweldige waters, uit die mag van vreemdelinge wie se woorde en dade leuens en bedrog is. Ek wil tot u eer 'n nuwe lied sing, o God, tot u eer wil ek sing met begeleiding van die lier, U wat aan konings die oorwinning skenk, wat u dienaar Dawid red. Red my van die swaard wat my bedreig, bevry my uit die mag van vreemdelinge wie se woorde en dade leuens en bedrog is. Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir 'n paleis. Mag ons skure vol wees en oorloop van kant tot kant. Mag ons kleinvee in hulle duisende aanteel, in hulle tienduisende vermenigvuldig op ons weivelde. Mag ons beestrop 'n groot kalweroes lewer. Mag ons nooit oorval en weggevoer word nie, mag daar geen klaagkreet op ons pleine gehoor word nie. Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!