Van Dawid.
Die HERE, my rots, moet geprys word,
Hy maak my hande bedrewe
vir die geveg,
my vingers vir die oorlog.
Hy is my vertroueling,
my bergskuiling, my beskutting,
my bevryder, my skild,
en by Hom skuil ek,
Hy wat my volk aan my onderwerp.
HERE, wat is 'n mens
dat U hom versorg,
'n sterfling
dat U hom in ag neem?
'n Mens is soos 'n asemteug,
sy lewensdae soos 'n vlugtige skaduwee.
HERE, buig u hemel af
en daal neer;
raak die berge aan,
sodat hulle rook.
Laat weerligte flits
en dryf hulle uitmekaar;
stuur u pyle en bring hulle
in verwarring.
Reik met u hand uit die hoogte,
bevry my en red my
uit die watermassa,
uit die hand van vreemdes
wie se monde onsin verkondig
en wie se regterhande bedrieglik is.
O God, 'n nuwe lied
wil ek vir U sing,
met begeleiding van die tiensnarige
harp wil ek U besing –
U wat aan konings
die oorwinning gee,
wat Dawid, u dienskneg,
bevry van 'n dodelike swaard.
Bevry my en red my uit die hand
van vreemdes
wie se monde onsin verkondig,
en wie se regterhande bedrieglik is,
sodat ons seuns soos
volgroeide plante kan wees
in hulle jeug,
ons dogters soos hoekpilare,
uitgekerf, geskik vir 'n paleis,
sodat ons graanskure
vol kan wees,
alle soorte kos kan lewer,
ons kleinvee met duisende,
met tienduisende, kan vermeerder
in ons oop weivelde,
en ons beeste swaar dragtig
kan wees;
met geen bres in ons mure nie,
geen veldtogte en geen
gejammer op ons pleine nie.
Gelukkig is die volk
met wie dit so gaan;
gelukkig is die volk
wie se God die HERE is!