PSALMS 144:1-15

PSALMS 144:1-15 NLV

Geseënd is die HERE, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak. Hy is my troue hulp en my toevlug, my veilige vesting en my redder. Hy is my beskermer by wie ek skuil, wat volke aan my onderwerp. HERE, wat is die mens dat U hom raaksien, ’n mensekind dat U vir hom omgee? Die mens is soos ’n asemteug, soos ’n skadu gaan sy dae verby. HERE, buig u hemele en daal neer! Raak die berge aan sodat hulle rook! Laat weerligstrale u vyande verstrooi, u pyle hulle in verwarring laat vlug. Reik af uit u hemel en verlos my; bevry my van woeste waters, red my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê. Ek sing ’n nuwe lied vir U, o God! Ek sing lofsange met begeleiding van die harp. U wat oorwinning gee aan konings, wat vir Dawid, u dienaar, van die bose swaard gered het. Red my en verlos my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê. Dan sal ons seuns in hulle jeug opgroei soos goed versorgde plante. Ons dogters sal hoekpilare wees, uitgebeitel soos vir ’n paleis. Ons voorraadskure sal vol wees van allerlei soorte lewensmiddels. Ons kleinvee sal vermeerder by die duisende, selfs by die tienduisende op ons velde. Ons beeste sal baie kalwers hê. Daar sal geen breuk in ons mure, en geen ballingskap meer wees nie; geen klaagkrete sal weer op ons pleine gehoor word nie. Gelukkig is die volk met wie dit so goed gaan. Gelukkig is die volk wie se God die HERE is.