PSALMS 105:16-36

PSALMS 105:16-36 AFR83

Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete geboei en hom in die gevangenis gehou totdat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het. Toe het die koning hom uit die gevangenis laat uitkom; die heerser oor baie volke het hom vrygelaat en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding, met gesag oor al sy besittings. Josef kon die amptenare van die koning na goeddunke beveel en selfs aan hoë amptenare leiding gee. Israel het na Egipte toe gekom, Jakob kon in die land van Gam gaan woon. Die Here het sy volk baie vrugbaar gemaak, talryker as hulle onderdrukkers. Hy het die gesindheid van die Egiptenaars verander, sodat hulle sy volk gehaat en vyandig opgetree het teenoor sy dienaars. Die Here het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, die man wat Hy verkies het. Onder die Egiptenaars het hulle die tekens van die Here gedoen, sy wonders het hulle gedoen in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak, maar hulle het hulle teen sy opdrag bly verset. Hy het hulle waters in bloed verander en hulle visse laat vrek. Hulle land het gekrioel van die paddas, selfs tot in hulle koning se slaapkamer. Die Here het beveel en daar het insekte gekom, muggies oor hulle hele gebied. Hy het hulle reëns in hael verander en swaarweer oor hulle land gestuur. Hy het hulle wingerdstokke en vyebome vernietig en die bome in hulle gebied stukkend geslaan. Hy het beveel en daar het sprinkane gekom, ontelbaar baie sprinkane. Hulle het al wat groen was in die Egiptenaars se land verslind en al die gesaaides van hulle lande afgevreet. Al hulle oudste seuns in die land het Hy laat sterwe, al hulle eersgeborenes.