PSALMS 105:16-36

PSALMS 105:16-36 NLV

Hy het ’n hongersnood oor die land gebring, en hulle kosvoorrade laat opraak. Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit tot sy woord waar geword het, en die HERE se woord hom reg bewys het. Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry. Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme. Hy kon aan sy beamptes bevele gee, en sy hoofamptenare wysheid leer. Toe het Israel na Egipte toe gekom. Jakob het as vreemdeling in die land Egipte gaan woon. Die HERE het sy volk laat vermeerder en hulle was magtiger as die vyande. Hy het hulle gesindheid verander sodat hulle sy volk gehaat het, en listig saamgesweer het teen die dienaars van die HERE. Hy het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, wat Hy verkies het. Hulle het wondertekens tussen hulle verrig, en wonderwerke in die land Egipte. Hy het duisternis gestuur, en dit het donker geword. Nogtans het die Egiptenaars hulle teen sy bevele verset. Hy het hulle water in bloed verander, en so al die visse laat vrek. Toe het paddas die land oordek, tot in die koning se slaapkamer. Op sy bevel het swerms insekte gekom, en muggies oor die hele land. Hy het hael gestuur in plaas van reën, en weerlig oor hulle hele land. Wingerde en vyebome het Hy getref, en al hulle bome stukkend geslaan. Op sy bevel het sprinkane gekom, hordes sprinkane sonder tal. Al die groen plante in die land het hulle verorber, al die produkte van die landerye het hulle vernietig. Die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf, die eerstelinge van elke huisgesin.