PSALMS 105:16-36

PSALMS 105:16-36 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het hulle honger laat word, daar was niks om te eet nie. Hy het 'n man gestuur om voor hulle te gaan, die man was Josef, sy broers het hom verkoop, en hy het 'n slaaf geword. Hulle het sy voete met toue vasgemaak, hulle het 'n ysterband om sy nek gesit. Josef was 'n slaaf totdat die tyd gekom het toe hy moes praat, en die Here vir hom gesê het wat hy moet sê. En wat hy gesê het, het gebeur. Die koning het mense gestuur en hulle het vir Josef uit die tronk laat kom. Die man wat oor volke regeer het, het vir Josef die deure laat oopmaak. Die koning het vir Josef gekies en aangestel om oor die paleis te regeer, Josef moes regeer oor alles wat aan die koning behoort het. Josef kon vir die amptenare van die koning sê wat hy wil hê hulle moet doen. Hy het vir die leiers geleer wat die regte dinge is wat hulle moet doen en sê. Jakob het na Egipte gekom, hy het in die land van Gam kom woon, en hy was 'n vreemdeling daar. Die Here het sy volk baie kinders laat kry, hulle het meer geword as hulle vyande. Die Here het die harte van die vyande verander, hulle het sy volk gehaat en hulle het slim planne gemaak teen sy dienaars. Die Here het sy dienaar Moses gestuur en ook vir Aäron, die man wat Hy gekies het. Hulle het die tekens van die Here gedoen by die Egiptenaars, hulle het wonderwerke gedoen in die land van Gam. Die Here het die donker gestuur, en dit het donker geword. Die Egiptenaars was opstandig teen wat die Here gesê het. Die Here het hulle water in bloed verander, en hulle visse het gevrek. Daar het paddas oral in die land gekom, die paddas het tot in die kamers van die koning gekom. Die Here het dit beveel, en toe kom daar steekvlieë en muggies in die hele land van die Egiptenaars. Die Here het die reën verander, dit het hael geword, en daar was weerlig in die land van die Egiptenaars. Die hael het hulle wingerde en hulle vyebome stukkend geslaan, dit het al die bome in die land stukkend geslaan. Die Here het dit beveel, en toe kom daar sprinkane, groot swerms sprinkane, niemand kon tel hoeveel sprinkane nie. Die sprinkane het alles opgevreet wat groen was in die land, hulle het al die koring en die plante in die land opgevreet. Die Here het elke oudste seun in die land laat sterf, elke kind wat gebore is toe sy pa nog sterk was.

PSALMS 105:16-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek. Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het. Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat. Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer. Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam. En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders. Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel. Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het. Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie. Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe. Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings. Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied. Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land. En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek. Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal, wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond. Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.

PSALMS 105:16-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete geboei en hom in die gevangenis gehou totdat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het. Toe het die koning hom uit die gevangenis laat uitkom; die heerser oor baie volke het hom vrygelaat en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding, met gesag oor al sy besittings. Josef kon die amptenare van die koning na goeddunke beveel en selfs aan hoë amptenare leiding gee. Israel het na Egipte toe gekom, Jakob kon in die land van Gam gaan woon. Die Here het sy volk baie vrugbaar gemaak, talryker as hulle onderdrukkers. Hy het die gesindheid van die Egiptenaars verander, sodat hulle sy volk gehaat en vyandig opgetree het teenoor sy dienaars. Die Here het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, die man wat Hy verkies het. Onder die Egiptenaars het hulle die tekens van die Here gedoen, sy wonders het hulle gedoen in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak, maar hulle het hulle teen sy opdrag bly verset. Hy het hulle waters in bloed verander en hulle visse laat vrek. Hulle land het gekrioel van die paddas, selfs tot in hulle koning se slaapkamer. Die Here het beveel en daar het insekte gekom, muggies oor hulle hele gebied. Hy het hulle reëns in hael verander en swaarweer oor hulle land gestuur. Hy het hulle wingerdstokke en vyebome vernietig en die bome in hulle gebied stukkend geslaan. Hy het beveel en daar het sprinkane gekom, ontelbaar baie sprinkane. Hulle het al wat groen was in die Egiptenaars se land verslind en al die gesaaides van hulle lande afgevreet. Al hulle oudste seuns in die land het Hy laat sterwe, al hulle eersgeborenes.

PSALMS 105:16-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het hongersnood uitgeroep oor die land; elke stok vir brood het Hy gebreek. Hy het iemand voor hulle uit gestuur; as 'n slaaf is Josef verkoop. Mense het sy voete in boeie geklem, 'n yster is om sy nek gesit tot die tyd toe sy woord vervul is. Die woord van die HERE het hom gelouter. Die koning het 'n boodskap gestuur en hy is losgelaat; die heerser van volke het hom vrygelaat. Hy het hom heer oor sy huis gemaak, en heerser oor alles wat hy besit, om sy •hoë amptenare na willekeur te beperk, en sy oudstes wysheid te leer. Israel het in Egipte aangekom, Jakob was 'n •vreemdeling in die land van Gam. Die HERE het sy volk baie vrugbaar gemaak; Hy het hulle magtiger gemaak as hulle teenstanders, wie se harte Hy verander het om sy volk te haat, om slu op te tree teen sy diensknegte. Hy het sy dienskneg Moses gestuur, ook Aäron wat Hy uitgekies het. Hulle het onder hulle sy aangekondigde tekens uitgevoer, en wonders in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak – was hulle dan nie opstandig teen sy woorde nie? Hy het hulle water in bloed verander, hulle vis laat doodgaan. Hulle land was oortrek met paddas, tot in die slaapkamers van hulle koninklikes. Hy het gepraat, en daar het steekvlieë gekom, muggies in hulle hele gebied. Hy het hulle reënbuie hael gemaak, met weerligstrale in hulle land. Dit het hulle wingerde en vyebome platgeslaan, die bome in hulle gebied verniel. Hy het gepraat, en daar het treksprinkane gekom, ontelbare voetgangers. Dit het al die plante in hulle land kaal gevreet; dit het die opbrengs van hulle landerye opgevreet. Hy het al die •eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle manlike krag.

PSALMS 105:16-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder het hy 'n hongersnood oor die land geroep; hy het die hele staf brood verbreek. Hy het 'n man voor hulle uit gestuur, naamlik Josef, wat vir 'n dienskneg verkoop is. Wie se voete hulle met boeie seergemaak het: hy is in yster gelê. Totdat sy woord gekom het: die woord van die HERE het hom beproef. Die koning het gestuur en hom losgemaak; selfs die owerste van die volk, en laat hom vry. Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy besittings. Om sy vorste te bind na sy behae; en leer sy senatore wysheid. Israel het ook in Egipte gekom; en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam. En hy het sy volk baie vermeerder; en hulle sterker gemaak as hulle vyande. Hy het hulle hart verander om sy volk te haat, om listig met sy dienaars te handel. Hy het sy dienaar Moses gestuur; en Aäron wat hy uitverkies het. Hulle het sy tekens onder hulle laat sien en wonders in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was nie opstandig teen sy woord nie. Hy het hulle water in bloed verander en hulle visse gedood. Hulle land het paddas in oorvloed voortgebring, in die kamers van hulle konings. Hy het gepraat, en daar het verskillende soorte vlieë en luise in al hulle gebiede gekom. Hy het hulle hael gegee vir reën en vlammende vuur in hulle land. Hy het ook hulle wingerde en hulle vyebome getref; en verbreek die bome van hulle grondgebied. Hy het gespreek, en die sprinkane het gekom en ruspes, en dit sonder getal, en al die kruie in hulle land opgeëet en die vrugte van hulle grond opgeëet. Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land verslaan, die owerstes van al hulle mag.

PSALMS 105:16-36 Die Boodskap (DB)

Die Here het ’n hongersnood oor die hele land laat kom. Daar was nie ’n krieseltjie kos oor om te eet nie. Maar Hy het ’n man voor hulle uit gestuur. Dit is Josef, wat as ’n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Die koning se huishouding was onder Josef se bestuur. Hy was die hoof oor die belangrike amptenare. Al die slim mense moes hy onderrig. Israel het toe na Egipte toe gekom, Jakob het as ’n vreemdeling in Gam se land gaan bly. Die Here het gesorg dat hulle baie kinders het, baie meer as die mense wat hulle verdruk het. Hy het die Egiptenaars teen sy mense laat draai. Later was hulle so vol haat dat hulle sy dienaars sleg behandel het. Die Here het toe vir Moses, sy dienskneg, gestuur, ook vir Aäron wat Hy self uitgekies het. Hulle het groot wonderwerke gedoen. Daar in Gam se land het hulle vir die Egiptenaars gewys hoe sterk die Here is. Die Here het alles laat donker word, maar hulle het geweier om na Hom te luister. Hy het hulle water in bloed verander. Al hulle visse het doodgegaan. Skielik het hulle land gewemel van paddas, tot in die koning se slaapkamer. Toe die Here die bevel gee, het steekvlieë op hulle toegesak. Muskiete was die hele wêreld vol. Die Here het hael en donderweer oor hulle gestuur in plaas van sagte reën. Swaar donderweer het hulle land uitmekaargeslaan. Hy het al hulle vrugtebome en wingerdstokke van die aarde af weggevee. Daar het nêrens ’n boom staande gebly nie. Hy het net ’n woord gesê, toe sak sprinkane op hulle toe. Hulle was so baie, jy kon hulle nie tel nie. Hulle het elke stukkie groenigheid in die Egiptenaars se land opgeëet. Daar het nie ’n plant of ’n vrug iewers oorgebly nie. Al die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf. In ’n oogwink was hulle sonder krag of hoop.

PSALMS 105:16-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy het ’n hongersnood oor die land gebring, en hulle kosvoorrade laat opraak. Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit tot sy woord waar geword het, en die HERE se woord hom reg bewys het. Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry. Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme. Hy kon aan sy beamptes bevele gee, en sy hoofamptenare wysheid leer. Toe het Israel na Egipte toe gekom. Jakob het as vreemdeling in die land Egipte gaan woon. Die HERE het sy volk laat vermeerder en hulle was magtiger as die vyande. Hy het hulle gesindheid verander sodat hulle sy volk gehaat het, en listig saamgesweer het teen die dienaars van die HERE. Hy het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, wat Hy verkies het. Hulle het wondertekens tussen hulle verrig, en wonderwerke in die land Egipte. Hy het duisternis gestuur, en dit het donker geword. Nogtans het die Egiptenaars hulle teen sy bevele verset. Hy het hulle water in bloed verander, en so al die visse laat vrek. Toe het paddas die land oordek, tot in die koning se slaapkamer. Op sy bevel het swerms insekte gekom, en muggies oor die hele land. Hy het hael gestuur in plaas van reën, en weerlig oor hulle hele land. Wingerde en vyebome het Hy getref, en al hulle bome stukkend geslaan. Op sy bevel het sprinkane gekom, hordes sprinkane sonder tal. Al die groen plante in die land het hulle verorber, al die produkte van die landerye het hulle vernietig. Die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf, die eerstelinge van elke huisgesin.