Psalms 105:16-36

Psalms 105:16-36 ABA

Die Here het hulle honger laat word, daar was niks om te eet nie. Hy het 'n man gestuur om voor hulle te gaan, die man was Josef, sy broers het hom verkoop, en hy het 'n slaaf geword. Hulle het sy voete met toue vasgemaak, hulle het 'n ysterband om sy nek gesit. Josef was 'n slaaf totdat die tyd gekom het toe hy moes praat, en die Here vir hom gesê het wat hy moet sê. En wat hy gesê het, het gebeur. Die koning het mense gestuur en hulle het vir Josef uit die tronk laat kom. Die man wat oor volke regeer het, het vir Josef die deure laat oopmaak. Die koning het vir Josef gekies en aangestel om oor die paleis te regeer, Josef moes regeer oor alles wat aan die koning behoort het. Josef kon vir die amptenare van die koning sê wat hy wil hê hulle moet doen. Hy het vir die leiers geleer wat die regte dinge is wat hulle moet doen en sê. Jakob het na Egipte gekom, hy het in die land van Gam kom woon, en hy was 'n vreemdeling daar. Die Here het sy volk baie kinders laat kry, hulle het meer geword as hulle vyande. Die Here het die harte van die vyande verander, hulle het sy volk gehaat en hulle het slim planne gemaak teen sy dienaars. Die Here het sy dienaar Moses gestuur en ook vir Aäron, die man wat Hy gekies het. Hulle het die tekens van die Here gedoen by die Egiptenaars, hulle het wonderwerke gedoen in die land van Gam. Die Here het die donker gestuur, en dit het donker geword. Die Egiptenaars was opstandig teen wat die Here gesê het. Die Here het hulle water in bloed verander, en hulle visse het gevrek. Daar het paddas oral in die land gekom, die paddas het tot in die kamers van die koning gekom. Die Here het dit beveel, en toe kom daar steekvlieë en muggies in die hele land van die Egiptenaars. Die Here het die reën verander, dit het hael geword, en daar was weerlig in die land van die Egiptenaars. Die hael het hulle wingerde en hulle vyebome stukkend geslaan, dit het al die bome in die land stukkend geslaan. Die Here het dit beveel, en toe kom daar sprinkane, groot swerms sprinkane, niemand kon tel hoeveel sprinkane nie. Die sprinkane het alles opgevreet wat groen was in die land, hulle het al die koring en die plante in die land opgevreet. Die Here het elke oudste seun in die land laat sterf, elke kind wat gebore is toe sy pa nog sterk was.