Psalms 105:16-36

Psalms 105:16-36 DB

Die Here het ’n hongersnood oor die hele land laat kom. Daar was nie ’n krieseltjie kos oor om te eet nie. Maar Hy het ’n man voor hulle uit gestuur. Dit is Josef, wat as ’n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Die koning se huishouding was onder Josef se bestuur. Hy was die hoof oor die belangrike amptenare. Al die slim mense moes hy onderrig. Israel het toe na Egipte toe gekom, Jakob het as ’n vreemdeling in Gam se land gaan bly. Die Here het gesorg dat hulle baie kinders het, baie meer as die mense wat hulle verdruk het. Hy het die Egiptenaars teen sy mense laat draai. Later was hulle so vol haat dat hulle sy dienaars sleg behandel het. Die Here het toe vir Moses, sy dienskneg, gestuur, ook vir Aäron wat Hy self uitgekies het. Hulle het groot wonderwerke gedoen. Daar in Gam se land het hulle vir die Egiptenaars gewys hoe sterk die Here is. Die Here het alles laat donker word, maar hulle het geweier om na Hom te luister. Hy het hulle water in bloed verander. Al hulle visse het doodgegaan. Skielik het hulle land gewemel van paddas, tot in die koning se slaapkamer. Toe die Here die bevel gee, het steekvlieë op hulle toegesak. Muskiete was die hele wêreld vol. Die Here het hael en donderweer oor hulle gestuur in plaas van sagte reën. Swaar donderweer het hulle land uitmekaargeslaan. Hy het al hulle vrugtebome en wingerdstokke van die aarde af weggevee. Daar het nêrens ’n boom staande gebly nie. Hy het net ’n woord gesê, toe sak sprinkane op hulle toe. Hulle was so baie, jy kon hulle nie tel nie. Hulle het elke stukkie groenigheid in die Egiptenaars se land opgeëet. Daar het nie ’n plant of ’n vrug iewers oorgebly nie. Al die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf. In ’n oogwink was hulle sonder krag of hoop.