SPREUKE 24:23-34

SPREUKE 24:23-34 AFR83

Wat nou volg, is ook afkomstig van wyse mense. Dit is nie reg om partydig te wees in die regspraak nie. 'n Regter wat 'n skuldige onskuldig verklaar, sal deur die hele bevolking vervloek word, deur almal verwens word. Maar met regters wat regverdig straf, sal dit goed gaan; hulle sal geseën word met voorspoed. Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend. Sit eers jou werk buite aan die gang en bewerk jou lande; daarna kan jy huis bou. Moenie teen jou naaste getuig as hy jou nie rede gegee het nie; moenie mense mislei met wat jy sê nie. Moenie sê: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen, ek sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het” nie. Ek het by 'n lui mens se land verbygestap, by 'n onverstandige mens se wingerd: dit was heeltemal oortrek van die onkruid, toegegroei onder die bossies, en die klipmuur was omgeval. Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink en daar iets uit geleer: nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap, daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.