SPREUKE 24:23-34

SPREUKE 24:23-34 NLV

Die woorde hieronder kom ook van wyse mense. Moenie bevooroordeeld wees wanneer jy moet regspreek nie. Die volk kryt ’n regter uit wat vir ’n skuldige sê: “Jy is onskuldig.” Mense en volke is verontwaardig daaroor. Wanneer regters ’n regverdige beslissing maak, word hulle geprys en oorvloedig geseën. Eerlike antwoorde is soos ’n soen op die mond. Maak eers buite reg en bewerk jou landerye. Daarna kan jy jou huis bou. Moenie teen iemand getuig as hy jou nie rede daarvoor gegee het nie. Moenie mense mislei met wat jy sê nie. Moenie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen. Ek sal hom in gelyke munt terugbetaal.” Ek het by ’n lui mens se landerye verbygeloop. Die wingerd was die eiendom van ’n onverstandige mens. Onkruid het dit heeltemal ingeneem. Dit was toegegroei onder bossies. Sy klipmuur het omgeval. Ek het nagedink oor wat ek gesien het. Ek het iets daaruit geleer. Nog ’n bietjie verder slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou om agteroor te sit, dan kom jou armoede aangestap, en oorval behoeftes jou soos ’n gewapende inbreker by jou huis.