Spreuke 24:23-34

Spreuke 24:23-34 AFR20

Ook hierdie spreuke is van die wyses: Om partydig te wees in regspraak is nie goed nie. Wie vir 'n goddelose sê, “Jy is regverdig” – volke sal hom vervloek, nasies sal hom verdoem. Maar dit gaan goed met dié wat 'n goddelose skuldig vind; oor hulle kom die seën van voorspoed. Wie eerlike antwoorde gee, is soos 'n soen op die lippe. Doen jou werk buite bestendig, en handel jou werk op jou land af; bou dan daarna jou huis. Moenie sonder gronde as getuie optree teen jou medemens nie! Sal jy met jou lippe mislei? Moet dít nie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen; ek gaan die man vergeld ooreenkomstig sy optrede.” By die land van 'n lui mens het ek verbygeloop, en by die wingerd van 'n mens sonder verstand. Kyk, dit was heeltemal toegegroei onder brandnetels, die grond was oortrek met onkruid, en sy klipmuur was afgebreek. Ek het dit bekyk en ter harte geneem; ek het dit gesien en as 'n vermaning aanvaar: 'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man.