SPREUKE 18:2-13

SPREUKE 18:2-13 AFR83

Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak. Waar daar goddeloosheid kom, kom daar krenkende optrede, en saam met die belediging kom die skande. Die woorde van 'n mens kan diep waters wees, 'n bruisende stroom, 'n bron van wysheid. Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige en om die onskuldige sy reg te ontsê nie. 'n Dwaas praat hom in 'n rusie in, hy soek slae met wat hy sê. 'n Dwaas se mond is sy ondergang, sy eie woorde is 'n dodelike strik. Skinderstories word gretig verslind; mense sluk dit so maklik. Een wat nalatig is met sy werk en een wat alles afbreek, is tweelingbroers. Die Naam van die Here is 'n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling. Die ryk man sien sy besittings as sy vestingstad, as 'n hoë muur wat hom beskerm. Op selfverheffing volg ineenstorting, op nederigheid eer. Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid