SPREUKE 18:2-13

SPREUKE 18:2-13 NLV

’n Dwaas het geen erg aan insig nie. Hy stel net daarin belang om sy eie opinie bekend te maak. Waar goddeloosheid sy voet by die deur inkry, kom minagting daarmee saam. Saam met die belediging kom ook die skande. ’n Man se woorde kan diep waters wees, ’n borrelende fontein waaruit wysheid vloei. Dit is verkeerd vir ’n regter om partydig te wees vir die skuldige, deur teen die onskuldige uitspraak te lewer. ’n Dwase mens praat hom alewig in ’n rusie in; hy soek vir ’n pak slae met wat hy sê. ’n Dwaas se mond is sy ondergang. Met sy woorde stel hy vir homself ’n noodlottige strik. Skinderstories is so soet soos lekkernye, dit sink tot diep in jou gemoed. Iemand wat lui is in sy werk, is die tweelingbroer van die verwoester. Die Naam van die HERE is soos ’n veilige fort. Die regverdige gaan skuil daar en word beskerm. Die ryk man beskou sy rykdom as ’n ondeurdringbare vesting. In sy verbeelding is dit ’n hoë muur waaragter hy beskerm word. Op selfverheffing volg ineenstorting. Op nederigheid volg eer. Iemand wat ’n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid