NUMERI 28:1-15

NUMERI 28:1-15 AFR83

Die Here het vir Moses gesê: “Beveel die Israeliete om op die bestemde tyd die offer te bring wat My toekom, die voedsel vir my vuuroffers wat deur My aanvaar word.” “Sê vir hulle: Julle moet die volgende vuuroffer vir die Here bring: twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek as gereelde brandoffers vir elke dag. Offer een lam in die môre en een teen die aand saam met een en 'n half kilogram meel as graanoffer, gemeng met 'n liter suiwer olie. Dit is die gereelde brandoffer wat al by Sinaiberg gebring is, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. Wanneer julle die eerste lam offer, moet julle 'n liter wyn as drankoffer vir die Here by die heiligdom uitgiet. Julle moet die tweede lam teen die aand offer, met dieselfde hoeveelheid meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.” “Op die sabbat moet julle twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek offer, met daarby drie kilogram meel wat met olie gemeng is as graanoffer en met 'n drankoffer daarby. Dit is die brandoffer vir elke sabbat afgesien van die gereelde brandoffer en die drankoffer daarby.” “Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here as brandoffer bring twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers, almal sonder liggaamsgebrek. Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elke ram drie kilogram, en saam met elke lam een en 'n half kilogram. Dit is die brandoffer, die vuuroffer, wat deur die Here aanvaar word. Die drankoffer saam met elke bul is twee liter wyn, saam met elke ram een en 'n derde liter en saam met elke lam een liter. Dit is die brandoffer wat deur die jaar elke maand gebring moet word. Afgesien van die gereelde brandoffer met die drankoffer daarby, moet 'n bokram as sondeoffer vir My gebring word.”