NUMERI 28:1-15
NUMERI 28:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet my offers vir My gee op die tyd wat Ek sê, die offers wat Ek moet kry. Dit is kos vir My, dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir My. “Jy moet vir hulle sê hulle moet elke dag vir My hierdie vuur-offer bring: twee gesonde jaaroud ram-lammers. Dit is 'n brand-offer wat hulle elke dag moet bring. Julle moet een lam in die oggend offer en die ander lam wanneer dit begin donker word. Hulle moet saam met hierdie vuur-offer ook 'n koring-offer bring. Die koring-offers is een tiende van 'n efa van die beste meel wat julle moet meng met 'n kwart hin olyf-olie wat uit die parskuip kom. Dit is die brand-offer wat julle elke dag moet bring, julle doen dit vandat julle by Sinai-berg was. Dit ruik lekker vir My, die Here, dit is 'n vuur-offer vir My. Saam met die brand-offer moet julle ook 'n drank-offer gee. Die drank-offer is 'n kwart hin wyn wat julle vir die Here by die tempel moet uitgooi op die altaar. Wanneer dit begin donker word, dan moet julle die tweede lam offer saam met die koring-offer en die drank-offer, julle moet dit offer soos in die oggend. Dit is 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir My, die Here.” Die Here het vir Moses gesê: “Op die Sabbatdag moet julle twee gesonde jaaroud ram-lammers offer. Julle moet dit offer saam met twee tiendes van 'n efa van die beste meel wat julle met olyf-olie moet meng, en saam met die drank-offer wat julle saam met die lammers moet offer. Dit is die brand-offers wat julle elke Sabbatdag moet bring, saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.” Die Here het vir Moses gesê: “Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here twee jong bulle, een skaap-ram en sewe ram-lammers gee. Dit moet gesonde diere wees. Saam met elke bul moet julle 'n koring-offer gee. Die koring-offer is drie tiendes van 'n efa van die beste meel wat julle moet meng met olyf-olie. Saam met die ram moet julle 'n koring-offer van twee tiendes van 'n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie. Saam met elke lam moet julle 'n koring-offer van een tiende van 'n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie. Dit is 'n brand-offer, 'n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here. Die drank-offer saam met 'n bul moet 'n halwe hin wyn wees. Die drank-offer saam met 'n ram moet een derde van 'n hin wees, en die drank-offer saam met 'n lam moet 'n kwart hin wees. Dit is die brand-offer wat julle elke maand van die jaar moet bring. Julle moet daarmee saam ook 'n bok-ram gee om 'n sonde-offer te wees. Julle moet hierdie offers bring saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.”
NUMERI 28:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring. En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as 'n voortdurende brandoffer. Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei; met 'n tiende van 'n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met 'n kwart-hin uitgestampte olie. Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees 'n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet. En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei — 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. MAAR op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort. Dit is die brandoffer van die sabbat op elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort. En by die begin van julle maande moet julle 'n brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek; en drie-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee-tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram; en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is 'n brandoffer, 'n lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. En hulle drankoffers moet wees 'n half-hin wyn vir 'n bul en 'n derde van 'n hin vir 'n ram en 'n kwart-hin vir 'n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar. Ook moet een bokram as sondoffer aan die HERE berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
NUMERI 28:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Moses gesê: “Beveel die Israeliete om op die bestemde tyd die offer te bring wat My toekom, die voedsel vir my vuuroffers wat deur My aanvaar word.” “Sê vir hulle: Julle moet die volgende vuuroffer vir die Here bring: twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek as gereelde brandoffers vir elke dag. Offer een lam in die môre en een teen die aand saam met een en 'n half kilogram meel as graanoffer, gemeng met 'n liter suiwer olie. Dit is die gereelde brandoffer wat al by Sinaiberg gebring is, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. Wanneer julle die eerste lam offer, moet julle 'n liter wyn as drankoffer vir die Here by die heiligdom uitgiet. Julle moet die tweede lam teen die aand offer, met dieselfde hoeveelheid meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.” “Op die sabbat moet julle twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek offer, met daarby drie kilogram meel wat met olie gemeng is as graanoffer en met 'n drankoffer daarby. Dit is die brandoffer vir elke sabbat afgesien van die gereelde brandoffer en die drankoffer daarby.” “Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here as brandoffer bring twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers, almal sonder liggaamsgebrek. Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elke ram drie kilogram, en saam met elke lam een en 'n half kilogram. Dit is die brandoffer, die vuuroffer, wat deur die Here aanvaar word. Die drankoffer saam met elke bul is twee liter wyn, saam met elke ram een en 'n derde liter en saam met elke lam een liter. Dit is die brandoffer wat deur die jaar elke maand gebring moet word. Afgesien van die gereelde brandoffer met die drankoffer daarby, moet 'n bokram as sondeoffer vir My gebring word.”
NUMERI 28:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Gee aan die Israeliete opdragte en sê vir hulle, ‘Wat my offers betref: Let nougeset daarop om op die vasgestelde tyd my voedsel, my offergawes, as 'n geur wat My behaag, vir My aan te bied.’ Sê vir hulle, ‘Dit is die offergawe wat julle vir die HERE moet aanbied: twee jaaroud ramlammers sonder gebrek, daagliks as 'n gereelde •brandoffer. Een ramlam moet jy in die oggend offer en die tweede ramlam teen laatmiddag en 'n tiende van 'n efa gesifte meel as •graanoffer, gemeng met 'n kwart hin geparste olyfolie. Dit is die gereelde brandoffer wat op die berg Sinai gebring is as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die HERE. Die bypassende •drankoffer is 'n kwart hin saam met die eerste ramlam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank vir die HERE uitgiet. Die tweede ramlam moet jy teen laatmiddag offer. Soos die •graanoffer in die oggend, moet jy dit offer en die bypassende drankoffer as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die HERE.’ ” “ ‘ Op die Sabbatdag moet twee jaaroud ramlammers sonder gebrek en twee tiendes van 'n efa gesifte meel as graanoffer, gemeng met olyfolie en die bypassende drankoffer, gebring word – 'n brandoffer op elke Sabbatdag, by die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer. “ ‘Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die HERE 'n brandoffer aanbied: twee jong bulle en een ram, asook sewe jaaroud ramlammers sonder gebrek; drie tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as •graanoffer by elke bul en twee tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ram; 'n tiende van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ramlam. Dit is 'n brandoffer met 'n aangename geur, 'n offergawe aan die HERE. Die bypassende drankoffers is 'n halwe hin wyn vir 'n bul, 'n derde hin vir 'n ram en 'n kwart hin vir 'n ramlam. Dit is die brandoffer met elke nuwemaan, vir al die maande van die jaar. Een bokram moet as •reinigingsoffer vir die HERE gebring word, naas die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer.’ ”
NUMERI 28:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: My offer en my brood vir my vuuroffers, as 'n lieflike geur vir My, moet julle sorgvuldig aan My bring op die regte tyd. En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring; twee jaaroud lammers dag vir dag sonder vlek as 'n voortdurende brandoffer. Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy in die aand berei; en 'n tiende van 'n efa meel as spysoffer, gemeng met 'n vierde deel van 'n hin geklitste olie. Dit is 'n voortdurende brandoffer wat op die berg Sinai bestem is as 'n lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. En sy drankoffer moet 'n vierde deel van 'n hin vir die een lam wees; in die heiligdom moet jy die sterk wyn vir die HERE as drankoffer laat uitgooi. En die ander lam moet jy in die aand berei; as die spysoffer van die môre en as sy drankoffer moet jy dit berei as 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. En op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder vlek, en twee tiendes meel as spysoffer, gemeng met olie, en die drankoffer daarvan; Dit is die brandoffer van elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en sy drankoffer. En in die begin van julle maande moet julle 'n brandoffer aan die HERE bring; twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder vlek; en drie tiendes meel as spysoffer, gemeng met olie, vir een bul; en twee tiendes meel as spysoffer, met olie gemeng, vir een ram; en 'n paar tiendes meel gemeng met olie as spysoffer vir een lam; as 'n brandoffer van lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. En hulle drankoffers moet 'n halwe hin wyn vir 'n bul wees en 'n derde van 'n hin vir 'n ram en 'n vierde van 'n hin vir 'n lam; dit is die brandoffer van elke maand gedurende die maande van die jaar. En een bokram as sondoffer aan die HERE moet behalwe die voortdurende brandoffer en sy drankoffer gebring word.
NUMERI 28:1-15 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete om op die tye wat Ek bepaal het, offers en vuuroffers vir My te bring. Dit sal vir My aanvaarbaar en goed wees. “Hierdie is dan die vuuroffers wat hulle vir die Here moet bring: Daar is ’n brandoffer wat elke dag vir die Here gebring moet word. Hierdie offer bestaan uit twee jong rammetjies van ’n jaar oud. Hulle mag nie iewers ’n liggaamsgebrek hê nie. Offer een in die oggend en een in die aand. Saam met hierdie offer moet daar ook ’n graanoffer gebring word wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel wat met ’n liter suiwer olyfolie aangemaak is. Dit is die brandoffer wat die Here reeds by die berg Sinai ingestel het en waarvan Hy hou. Die drankoffer wat by hierdie offer hoort, is ’n liter wyn wat oor die altaar uitgegooi word. Die tweede lam moet in die aand geoffer word met presies dieselfde graan- en drankoffers as dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer waarvan die Here hou.” “Op die sabbat, die sewende dag van die week waarop almal moet rus, moet daar twee jaaroud rammetjies geoffer word. Hulle moet gesond wees en niks makeer nie. Saam met hulle is die graanoffer van drie kilogram meel met olyfolie gemeng en ’n drankoffer wat daarby hoort. Hierdie sabbatsoffer is ’n ekstra offer wat op die sabbat gebring moet word saam met die gereelde daaglikse offer.” “Op die eerste dag van die maand moet julle vir die Here die volgende brandoffer bring: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud rammetjies wat niks makeer nie. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, offer, saam met elke ram twee kilogram en saam met elke lam een kilogram. Dit is ’n brandoffer wat met vuur verbrand word. Dit is vir die Here ’n offer waarvan Hy hou. Die drankoffer wat hierby hoort, is twee liter wyn saam met elke bul, een en ’n half liter saam met die ram en een liter elk vir elke lam. Hierdie brandoffer moet elke maand van die jaar gebring word. Bo en behalwe hierdie offer moet die daaglikse brandoffer met die drankoffer wat daarmee saamgaan, steeds gebring word. Op die eerste dag van die maand moet daar ook ’n bokram as ’n offer vir die volk se sondes vir die Here geoffer word.”
NUMERI 28:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir Moses gesê: “Gee die volgende opdragte aan die Israeliete: Sorg dat julle my offer op die tyd bring wat daarvoor bepaal is. Die offer wat julle vir My op die vuur bring, is my kos. Ek hou baie daarvan. “Sê vir hulle: Julle moet gereeld, dag vir dag, vir die HERE twee gesonde jaaroud lammers as vuuroffer bring. Een moet in die oggend en die ander een in die aand geoffer word. Saam met elke lam moet julle ’n graanoffer bring van een en ’n half kilogram meel gemeng met een liter olyfolie. “Dit was die gereelde brandoffer wat reeds by Sinaiberg as vuuroffer gebring is, ’n vreugde vir die HERE. Saam met die lam moet julle ’n drankoffer van een liter wyn bring. Julle moet dit by die heiligdom uitgiet as ’n offer vir die HERE. Die tweede lam word in die aand gebring saam met ’n maaltydoffer en drankoffer net soos die offer van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat vir die HERE vreugde verskaf.” “Op die Sabbatdag moet jy twee gesonde jaaroud lammers offer. Dit moet gedoen word saam met ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olie gemeng is en ’n drankoffer. Dit is die brandoffer vir elke Sabbat bo en behalwe die gereelde brandoffer en sy drankoffers.” “Op die eerste dag van elke maand moet julle brandoffers vir die HERE bring van twee gesonde jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers. Saam met elke bul moet julle ’n maaltydoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met elke ram gaan ’n offer van drie kilogram meel met olie gemeng. Saam met elke lam gaan ’n offer van een en ’n half kilogram meel gemeng met olie. Dit is ’n vuuroffer vir die HERE, ’n brandoffer waarvan Hy baie hou. Die drankoffer saam met elke bul bestaan uit twee liter wyn, saam met elke ram een en ’n derde liter wyn, en saam met die lammers een liter wyn. Hierdie offers moet dwarsdeur die jaar op die eerste dag van elke maand gebring word.”