Die HERE het vir Moses gesê: “Gee die volgende opdragte aan die Israeliete: Sorg dat julle my offer op die tyd bring wat daarvoor bepaal is. Die offer wat julle vir My op die vuur bring, is my kos. Ek hou baie daarvan. “Sê vir hulle: Julle moet gereeld, dag vir dag, vir die HERE twee gesonde jaaroud lammers as vuuroffer bring. Een moet in die oggend en die ander een in die aand geoffer word. Saam met elke lam moet julle ’n graanoffer bring van een en ’n half kilogram meel gemeng met een liter olyfolie. “Dit was die gereelde brandoffer wat reeds by Sinaiberg as vuuroffer gebring is, ’n vreugde vir die HERE. Saam met die lam moet julle ’n drankoffer van een liter wyn bring. Julle moet dit by die heiligdom uitgiet as ’n offer vir die HERE. Die tweede lam word in die aand gebring saam met ’n maaltydoffer en drankoffer net soos die offer van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat vir die HERE vreugde verskaf.” “Op die Sabbatdag moet jy twee gesonde jaaroud lammers offer. Dit moet gedoen word saam met ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olie gemeng is en ’n drankoffer. Dit is die brandoffer vir elke Sabbat bo en behalwe die gereelde brandoffer en sy drankoffers.” “Op die eerste dag van elke maand moet julle brandoffers vir die HERE bring van twee gesonde jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers. Saam met elke bul moet julle ’n maaltydoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met elke ram gaan ’n offer van drie kilogram meel met olie gemeng. Saam met elke lam gaan ’n offer van een en ’n half kilogram meel gemeng met olie. Dit is ’n vuuroffer vir die HERE, ’n brandoffer waarvan Hy baie hou. Die drankoffer saam met elke bul bestaan uit twee liter wyn, saam met elke ram een en ’n derde liter wyn, en saam met die lammers een liter wyn. Hierdie offers moet dwarsdeur die jaar op die eerste dag van elke maand gebring word.”
Lees NUMERI 28
Deel
Vergelyk alle weergawes: NUMERI 28:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's