Numeri 28:1-15

Numeri 28:1-15 AFR20

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Gee aan die Israeliete opdragte en sê vir hulle, ‘Wat my offers betref: Let nougeset daarop om op die vasgestelde tyd my voedsel, my offergawes, as 'n geur wat My behaag, vir My aan te bied.’ Sê vir hulle, ‘Dit is die offergawe wat julle vir die HERE moet aanbied: twee jaaroud ramlammers sonder gebrek, daagliks as 'n gereelde •brandoffer. Een ramlam moet jy in die oggend offer en die tweede ramlam teen laatmiddag en 'n tiende van 'n efa gesifte meel as •graanoffer, gemeng met 'n kwart hin geparste olyfolie. Dit is die gereelde brandoffer wat op die berg Sinai gebring is as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die HERE. Die bypassende •drankoffer is 'n kwart hin saam met die eerste ramlam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank vir die HERE uitgiet. Die tweede ramlam moet jy teen laatmiddag offer. Soos die •graanoffer in die oggend, moet jy dit offer en die bypassende drankoffer as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die HERE.’ ” “ ‘ Op die Sabbatdag moet twee jaaroud ramlammers sonder gebrek en twee tiendes van 'n efa gesifte meel as graanoffer, gemeng met olyfolie en die bypassende drankoffer, gebring word – 'n brandoffer op elke Sabbatdag, by die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer. “ ‘Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die HERE 'n brandoffer aanbied: twee jong bulle en een ram, asook sewe jaaroud ramlammers sonder gebrek; drie tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as •graanoffer by elke bul en twee tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ram; 'n tiende van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ramlam. Dit is 'n brandoffer met 'n aangename geur, 'n offergawe aan die HERE. Die bypassende drankoffers is 'n halwe hin wyn vir 'n bul, 'n derde hin vir 'n ram en 'n kwart hin vir 'n ramlam. Dit is die brandoffer met elke nuwemaan, vir al die maande van die jaar. Een bokram moet as •reinigingsoffer vir die HERE gebring word, naas die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer.’ ”