NUMERI 27:1-11

NUMERI 27:1-11 AFR83

Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom. Hulle het aan die Manassestam behoort. Selofgad was 'n seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, seun van Josef. Die dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Hulle het voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan en gesê: “Ons pa is in die woestyn dood. Hy was nie een van Korag se bende wat teen die Here saamgesweer het nie. Hy het deur sy eie sondes gesterf en geen seuns gehad nie. Waarom moet ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons grond tussen dié van sy familie.” Moses het hulle saak voor die Here gebring, en die Here het vir hom gesê: “Selofgad se dogters het gelyk. Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond tussen dié van hulle pa se familie gee. Gee vir hulle die grond wat hulle pa sou gekry het. “Sê vir die Israeliete: As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy grond aan sy dogter gee. As hy ook nie 'n dogter het nie, gee sy grond vir sy broers. As hy nie broers het nie, gee dit vir sy ooms aan vaderskant. En as sy pa nie broers gehad het nie, moet julle sy grond vir die naaste bloedverwant uit sy familie gee, dat dié dit kan besit.” Dit moet vir die Israeliete 'n bindende voorskrif bly soos die Here vir Moses beveel het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor NUMERI 27:1-11

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid