Numeri 27:1-11

Numeri 27:1-11 AFR20

Die dogters van Selofgad – hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, van die Manasse-familiegroep – het na vore getree. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, seun van Josef. Hulle het voor Moses, die priester Eleasar, die leiers en die hele volksvergadering by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan en gesê: “ Ons vader is oorlede in die woestyn. Hy was egter nie onder die bende nie – daardie bende van Korag wat teen die HERE saamgespan het. Maar deur sy eie sonde het hy gesterf, en hy het nie seuns gehad nie. Waarom moet ons vader se naam verdwyn uit sy familiegroep omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons erfgrond tussen ons vader se broers.” Moses het hulle saak toe voor die HERE gebring. Die HERE het vir Moses gesê: “ Die dogters van Selofgad se versoek is billik. Jy moet beslis vir hulle onvervreembare erfgrond gee tussen hulle vader se broers. Jy moet hulle vader se erfdeel na hulle laat oorgaan. Met die Israeliete moet jy praat en sê, ‘As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy erfdeel na sy dogter laat oorgaan. En as hy nie 'n dogter het nie, moet julle sy erfdeel vir sy broers gee. En as hy nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy vader se broers gee. En as sy vader nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy bloedverwant gee wat die naaste aan hom is in sy familiegroep. Hy moet dit dan in besit neem. Dit moet vir die Israeliete 'n wetlike voorskrif wees, soos die HERE Moses beveel het.’ ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Numeri 27:1-11

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid