Numeri 27:1-11

Numeri 27:1-11 DB

Daar was ’n man met die naam Selofgad. Hy was ’n seun van Gefer, die seun van Gilead, die seun van Makir, die seun van Manasse, die seun van Josef. Selofgad het vyf dogters gehad. Hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Op ’n dag het hierdie dogters na Moses en Eleasar toe gekom waar hulle saam met die leiers van die volk en al die ander Israeliete by die tent van die Here in ’n vergadering was. “Ons pa,” het hulle gesê, “is in die woestyn dood sonder dat hy ooit seuns gehad het. Hy was nie een van Korag se trawante wat teen die Here in opstand gekom het nie. Hy het as gevolg van sy eie sonde gesterf. Dit is mos nie regverdig dat ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie seuns gehad het nie. Daarom vra ons dat u vir ons sy grond tussen sy familie sal gee wat hy moes kry.” Moses het die saak aan die Here gestel, en die Here het vir hom gesê: “Selofgad se dogters is reg, jy moet vir hulle grond gee tussen hulle familie. Hulle moet die deel erf wat hulle pa sou kry. Gaan sê ook vir die Israeliete: As iemand doodgaan sonder dat hy seuns het, behoort sy grond aan sy dogters. As hy nie dogters het nie, moet die grond na sy broers toe gaan. As hy nie broers het nie, moet die grond na sy ooms toe gaan aan sy pa se kant van die familie. As sy pa nie broers gehad het nie, gaan die grond na sy naaste bloedfamilie toe. Hierdie reëling wat Ek vir Moses gegee het, geld vir altyd.”

Video for Numeri 27:1-11

Gratis leesplanne en oordenkings oor Numeri 27:1-11